
Want toe was jy nog lief vir my
Want toe was jy nog lief vir my (SPERSTREPE)
Ek huiwerstap met trae voeteval
versigtig, verleë, verward
jou sperstreep woorde wat om my knal
slaan my menswees plat, hortend en hard
niks wat ek doen is ooit goed genoeg
alleen in my binnekamer sal ek aanhou wroeg
binne die sperstreep van jou eie norm
is jy besig om my lyne al meer te hervorm
soms anker ek tussen anatto strepe
my psige huiwerend, andante besluit
die wêreld rondom my in allegro grepe
jou bekgevegte in andantino kruit
die sperstrepe op my lewenspad
is die tronk van my liefde vir jou
jy, Narcissus, die stukkende rat
wat my gevange in anatema hou
kan jy onthou, toe ons jonk was
was ons liefde die enigste grense, vrý
ons sperstrepe in totaal ander klas
want toe was jy nog lief vir mý …
©Tharina Schnetler
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.