Jongste aktiwiteit:

Word wakker

“Trauma is personal. It does not disappear if it is not validated. When it is ignored or invalidated the silent screams continue internally heard only by the one held captive.” Danielle Bernock

 

Dit is asof ek wakker word uit ‘n droom. Nee. ‘n Nagmerrie. Was dit net ‘n droom? Stadig maar seker begin al my sintuie doen wat hulle moet doen. My neus vertel my dat ek iewers in ‘n vuil, muwwerige plek is; die klammigheid in die lug herinner my aan die bedompigheid van seelug as dit mistig is. Soos my oë gewoond raak aan die donker kan ek vier mure uitmaak. ‘n Dun straal lig probeer onderdeur ‘n swaar deur inkom, maar die donker is baie sterker en stuit die lig voordat dit die vertrek te ver kan binnedring. Die baksteen mure is vaal en laat die vertrek soos ‘n tronksel voel. Nie dat ek al ooit in ‘n tronksel was nie, maar as ek een moet voorstel, sal dié vertrek ‘n perfekte voorstelling wees. Behalwe daar is geen venster met tralies voor, wat my ‘n kykie kan gee van wat buite gebeur nie. My ore suis van die stilte, maar as ek mooi luister kan ek elke nou en dan ‘n enkele waterdruppel wat iewers drup, hoor. Water. Ek besef hoe dors ek is. My tong voel dik en my keel brand, opsoek na vog. Ek beweeg my wange en my tong om speeksel te probeer maak, en besef daar is sere in my mond. Ek voel versigtig aan my gesig. My lip is geswel en my wang voel pofferig en pynlik. Ek besef my hele liggaam kerm van die pyn. Ek probeer regop sit, maar my lyf is te seer en swak. Ek bly lê terwyl ek diep teue van die vrot lug inasem. Ek maak my oë toe en probeer agterkom waaroor my lyf alles kla. Soos ek asemhaal voel ek die ribbes aan my linkersy uitroep van pyn. My gewrigte voel asof dit met ‘n mes gesny is. My kop klop en met elke klop word die hoofpyn erger. As ‘n bysaak noem my knieë dat daar waarskynlik nie meer velle op hulle is nie.

Ek weet nie hoe lank het ek weer weggeraak nie. Dalk ‘n paar sekondes. Dalk ‘n paar uur. Dit het egter niks gedoen vir my welstand nie. Klanke vanuit die deur se kant af ruk my tot my volle bewussyn. Ek rol op my regtersy, wag ‘n oomblik dat die seer bedaar en dan rol ek op my maag. Ek stoot myself stadig op en ‘n stortvloed van pyn golf deur my, oor my, maar ek baklei deur die ongemak totdat ek wankelrig orent is. My bene vra of ek nie eerder weer wil plat gaan lê nie, maar ek oortuig hulle om so bietjie regop te bly. Ek fokus op die geluide wat van die deur se kant af kom, terwyl ek retireer totdat ek die rou, growwe bakstene teen my rug voel. Soos die koue muur geniepsig my rug aanraak besef ek, ek het net my onderklere aan en ek voel selfs méér weerloos.
Die deur gaan stadig oop en my oë sukkel om die skielike lig te hanteer, maar ek forseer hulle om oop te bly. Al wat ek sien is ‘n silhoeëtte wat roerloos bly staan.
“Hallo? Wie’s daar?” Of dit is wat ek wou sê, maar met die wat my mond en keel kurkdroog is, is al wat uitkom sagte klanke wat ek self nie herken as woorde nie.
Die figuur kom nader en alles in my gil dat ek moet weghardloop. Maar daar is nêrens heen om te hardloop nie. As ek nie kan hardloop nie, moet ek seker maar baklei. Ek lig my ken op en trek my skouers agtertoe. My oë soek vir ‘n sagte teiken, ‘n swak plek waar ek die naderende gevaar kan bydam.
“Toemaar. Wees rustig. Ek is hier om jou te help.” Die man se stem is sag en kalm. Vriendelik? Hy hou iets voor hom uit en ek koes en knyp my oë toe. Niks gebeur nie. Ek maak my oë versigtig oop en sien dat hy ‘n bottel water aanbied. Ek aarsel, maar die dors is groter as die vrees. Ek gryp die bottel, ruk die prop af en laat die koue vloeistof gulsig my dors les. Ek is teleurgesteld toe die laaste sluk in my keel verdwyn en probeer nog ‘n paar druppels uit die leë bottel druk, maar dis tevergeefs. Ek laat sak die bottel en bekyk die man. In die halfdonker kan ek nie veel uitmaak nie. Hy is heelwat langer as wat ek is, en breër ook. Dit is seker hoe dit gelyk het toe Goliat oor Dawid getoring het. Die denim en T-hemp wat hy aan het verklap niks van hom nie, so ook nie die oninteressante haarstyl nie. Daar is ook niks aan sy gesig wat hom kon onderskei van enige ander gesig in ‘n skare mense nie. Die reuk van goedkoop naskeermiddel – iets tussen muskus en tabak – en sweet wat soos ‘n wolk oor hom hang, laat die hare op my nek regop staan.
“Wat gaan aan? Waar is ek?” Dit is ooglopende vrae, maar dit moet hardop gevra word.
“Jy was in ‘n ongeluk.” Dit is asof daar ‘n hartseer in die man se stem is.
“Maar ek…” Onsekerheid spoel deur my gedagtes.
“Dít sal alles verduidelik.”, sê hy terwyl hy ‘n gevoude stuk papier voor hom uithou.
Ek vat die stuk papier, maar kyk nie daarna nie. Ek hou die man agterdogtig dop. Iets is nie reg nie.
Hy draai om en loop met lang treë uit die vertrek, en verdwyn uit sig. Ek volg hom hoopvol, maar hy is byna onmiddellik weer in die deur se opening. Hy hou ‘n skinkbord met ‘n paar snye brood, ‘n kers en ‘n boksie vuurhoutjies voor hom uit. Ek aarsel eers weer, maar vat dit waaksaam uit sy hand. Hy draai sonder om verder ‘n woord te uiter om, en maak die deur agter hom toe.
“Wag!” roep ek angsbevange, maar die skuif van ‘n grendel is al wat my antwoord.
Dan is dit stil.
Ek sit die skinkbord neer en steek die kers aan. Die snye brood is dik gesmeer met margarien, en met die hongerpyne waarvan ek skielik bewus word, is dit ‘n koningsmaal.
Terwyl ek smul aan ‘n sny brood vang my oog die stuk papier wat ek laat val het toe ek die man probeer volg het. Ek gaan sit langs die kers en vou die papier oop.

Daar word vertel dat sommige slagoffers van trauma in ‘n trans gaan en ‘n fantasiewêreld skep waaruit hulle nie kan wakker word nie. In hierdie katatoniese toestand leef die slagoffers steeds hulle lewens asof die trauma nooit gebeur het nie. Ander slagoffers vertel weer dat hulle vasgevang was in ‘n situasie of plek waaruit hulle nie kon ontsnap nie. Een manier om hulle te laat besef dat hulle wakker moes word, was ‘n briefie wat hulle in hul fantasiewêreld gevind het. Dit sou hulle die waarheid vertel. Dit sou hulle herinner van die trauma. Dit sal jou herinner dat jy in ‘n motorongeluk was. Die brief sou hulle smeek om WAKKER te word. Dit kan maande wees voor jy wakker word, maar sodra jy die werklikheid aanvaar sal jy gereed was om te ontsnap uit jou fantasiewêreld en WAKKER TE WORD. WORD WAKKER ASSEBLIEF.

Ek draai die handgeskrewe brief om, maar daar is niks anders om leidrade te gee van wat aangaan nie. Ek lees dit weer. Beteken dit…? Was ek in ‘n ongeluk? Is ek vasgekeer in my kop omdat ek nie die trauma kan aanvaar nie?
Vir die eerste keer probeer ek onthou wat my laaste herinnering is. Sover ek kan onthou, was ek definitief in ‘n kar. Ek was op pad… Ek was op pad na Linda se ooievaarstee toe. En … en wat? Dit is asof daar ‘n swart gat is waar my herinneringe moes wees. Ek probeer logies dink oor wat aangaan. Ek is Michelle Peens. Ek woon in Northcliff. My gedagtes beweeg van een herinnering na die volgende. Ek weet wie my ouers is, wie my suster is, waar ek werk en wat ek laas vir ontbyt gehad het. Ek is seker daar is niks fout met my geheue nie. Behalwe net … duidelik is daar.
Die tyd stap aan. Minute. Ure. Dae? Ek weet nie. Nêrens in die klein vertrekkie is daar enige leidraad wat verraai watter dag, of selfs watter die tyd van die dag dit is nie. Ek verwyl my tyd deur elke hoekie van die vertrek te ondersoek, opsoek na vryheid. As die pyn te veel raak gaan lê ek op die walglike matras en probeer onthou wat gebeur het, voordat ek hier wakker geword het. Elke nou en dan is dit asof ‘n beeld of ‘n herinnering ‘n verskyning wil maak, maar dit bly elke keer net-net buite bereik, asof dit my tart.

Teen die tyd wat die kers lankal uitgebrand het, en die brood en water lank vergete was, hoor ek weer geluide by die deur. Ek vlug weer so ver van die deur af as wat ek kan. Soos tevore gaan die deur oop en die silhoeët van die reusagtige man blok die ingang. Hy wag ‘n oomblik voor hy stadig nader beweeg, soos iemand wat probeer om ‘n bang, weerlose dier te nader. Na ‘n ewigheid staan hy by my met ‘n bottel water wat hy vir my aanbied. Ek vat die bottel by hom en vat klein slukkies om nie weer my voorraad op een slag op te gebruik nie. Tussen slukke bekyk ek die man weer noukeurig. Hy het dieselfde denim en wit T-hemp as voorheen aan. Ek besef ek is nie eintlik bang vir hom nie. Hy is dalk ‘n kolossale mens, maar daar is niks dreigend of gevaarlik in sy vriendelike gesig nie.
“Verstaan jy wat aangaan?” vra hy na hy my genoeg tyd gegee het om te drink.
“Nee.” antwoord ek hom, maar bedink my antwoord. “Dalk.”
“Wat verstaan jy nie?” vra hy met besorgdheid in sy stem.
“Ek glo nie ek was in ‘n ongeluk nie. Hierdie voel te werklik. Die pyn is werklik. Die honger en dors is werklik.” Daar is geen twyfel in my stem nie.
“Die mens se brein is ‘n besondere orgaan. Dit kan wonderlike doen om ‘n jou te beskerm van trauma.” Die man praat met gesag in sy stem, asof hy ‘n dokter of ‘n kenner van die brein is.
“Wie is jy?” Dit is eintlik wat ek heel eerste moes vra.
“Kom ons sê maar net ek is … ‘n beskermengel. Ek is hier om jou te help. Ek is hier om vir jou te sê jy moet wakker word. Hierdie is nie die werklikheid nie.”
“Watse bewys het jy, of seker ék, dat hierdie alles in my kop is?” Ek sukkel om die weifeling in my stem weg te steek.
“Daar is geen bewyse nie. Jy moet net die werklikheid aanvaar. Jy was ‘n ongeluk. Jy moet wakker word. Die oomblik as jy die feite aanvaar sal jy wakker word.” Daar is ‘n teerheid in sy stem asof hy my wil troos.
“Goed.” antwoord ek. “Ek aanvaar dat ek in ‘n ongeluk was.” Ek weet dit is ‘n leuen. Ek glo dit nie vir een oomblik nie.
Hy bly stil, asof hy wag vir iets om te gebeur. Hy sug, draai om, verdwyn om die hoek en kom dan weer met ‘n skinkbord met ‘n kers en brood te voorskyn. Hy wag vir ‘n oomblik om te sien of ek iets doen, maar ek bly bewegingloos teen die muur staan. Sy oë sak en bekyk my lyf op en af. Ek onthou dat ek net onderklere aan het, en probeer lomp om my lyf toe te maak met my arms. Iets verander in die man se gesig, maar voordat ek kan lees wat presies dit is, draai hy om, stap uit en maak die deur agter hom toe.
Ek sak op die vloer neer. Moedeloos. Is dit regtig in my kop?
Die reuk van die man se naskeermiddel bly lank in die lug hang, sterker as die reuke wat uit die emmer in die hoek kom. Die haartjies in my nek staan regop. Wat mis ek?

Tyd verloop. Ek probeer die sekondes tel, maar my gedagtes dwaal af, opsoek na antwoorde of herinneringe wat die antwoord sal onthul. Die man besoek my gereeld. Elke keer presies dieselfde as die vorige keer. Hy probeer my oortuig dat ek in ‘n fantasiewêreld leef. Hy smeek my om wakker te word. Dan verdwyn hy weer, maar los sy reuk van muskus en tabak agter, wat my die ritteltits gee. Nou en dan sal hy weer vir my ‘n stuk papier gee met dieselfde boodskap as die eerste keer, of net met die woorde “WORD WAKKER”, geskryf in dieselfde handskrif. En ‘n eindelose voorraad water, brood en kerse.

Ek probeer myself oortuig dat ek in ‘n ongeluk was en dat hierdie alles in my kop is. Ek skep gebeurtenisse in my kop. Ek verbeel my ek was in my kar, ‘n trok het in my vasgejaag en ek het baie seergekry. Ek vertel myself dat ek in ‘n koma is. Ek probeer wakker word. Maar my verbeelding wil nie as werklikheid posvat in my kop nie.
En tyd verloop.
Hoe lank is ek nou al in ‘n koma? Hoe lank is ek al in my fantasiewêreld? Is tyd hier anders as in die werklike wêreld? Is ‘n week hier maar net ‘n oomblik in die wêreld daarbuite, soos in ‘n droom?

Vir die honderdste keer, of dalk die duisendste keer, lê ek en tower gebeure op wat my tot hier gebring het. Ek verbeel my hoe ek in my kar klim en die straat af ry. Ek sien elke beweging, elke draai, elke stopstraat en selfs ander verkeer. Dalk … dalk dit is meer ‘n werklike herinnering en nie net my verbeelding nie? Ek … dink so… Ek sien in my geestesoog hoe ek die pad ry na Linda se huis toe. In my verbeelding ry ek oor die groot interseksie. ‘n Taxi stop nie by die rooi lig nie en tref my kar. Maar ‘n herinnering laat my verder ry.
Of is dit net nog verbeelding?
Ek draai af in ‘n stil straatjie wat my altyd senuweeagtig maak. ‘n Ent weg sien ek ‘n man langs die pad lê. Dis ‘n groot man. Ek wonder of ek moet stop en help, en of ek nie maar net iemand moet bel nie.
Die beelde in my geestesoog word helderder, asof dit donker was en lig nou daarop skyn. Is my verbeelding besig om die oorhand te kry?
Ek stop en kyk rond of daar nie iemand anders is wat kan help nie. Die straat is stil. Ek klim uit en stap versigtig nader. Die reuk van muskus en tabak hang in die lug. Ek buk oor die man. Ek herken sy gesig. Ek herken sy gesig nóú, maar tóé was hy ‘n vreemdeling. Hy beweeg skielik en slaan my met sy vuis in my gesig en ek slaan neer op die teer. My knieë is nerfaf en ek is lam van die pyn. Ek het nie kans om te herstel nie. Die massiewe man staan oor my en gee my ‘n skop in die ribbes. Ek’s seker ek het iets hoor kraak. Hy sit met sy groot, stink lyf bo-op my, haal ‘n inspuiting met ‘n vloeistof in uit sy sak, en maak dit leeg in my skouer. Die wêreld word donker om my.
Ek kom orent. Ek onthou! Ek is wakker! Ek storm na die deur en begin met my vuiste daarop hamer.
“Laat my uit!” gil ek totdat ek hees word.
Uiteindelik hoor ek die geluide agter die deur en die deur gaan oop. Onmiddellik begin ek die silhoeëtte aanval met alles wat ek het, maar ek kon netsowel teen ‘n rots probeer baklei het. Die reus klap my dat ek ‘n paar treë agteruit steier voordat ek met ‘n hik op die sementvloer beland. Hy is op my voor ek kan herstel, en vou sy kolossale hand om my keel. Ek probeer sy hande van my keel af trek, maar hy druk stywer soos ‘n luislang om sy prooi.
“Ek moet sê, jy hou langer as al die ander.” sê hy smalend.
“Hoekom…?” ek sukkel om die woord uit te kry. Sy hand wat die lug en lewe uit my keel druk.
Hy ontspan die drukking op my keel effens.
“Hoekom nie?” Hy lag uit sy maag uit. “Dit is so lekker om julle te sien spook met die werklikheid. Wat is werklik? Wat is in julle koppe? Uiteindelik breek almal en ek kan maak met hulle wat ek wil. Soos lappoppe. Swak, patetiese vroue.” Hy geniet sy eie woorde voordat hy byvoeg, “Die mens se verstand kan ook net sóveel vat voordat dit ingee.”
“Jou siek vark!” ‘n Golf krag en moed spoel oor my. Hy gáán my nie breek nie. Hy gáán nie doen wat hy wil met my nie. My hande kry sy gesig. Ek krap verwoed. Dan kry my duime sy oë. Ek druk met elke greintjie krag wat ek kan bymekaarskraap. Hy gil en laat los my keel. Maar dit is te laat. Die wêreld word donker om my, en die donkerte sluk my in.

Ek maak my oë oop. Ek lê op ‘n hospitaalbed. Pypies en drade is oral op en in my lyf. Langs my sit my ma. Haar gesig helder op en sy omhels my. Ek begin huil. Sy probeer iets deur haar eie trane en snikke sê, maar geen verstaanbare woorde kom uit nie. Na ‘n ruk laat los sy my en susters, dokters en selfs polisiemanne kom draai om my soos brommers. Party probeer my troos. Ander maak seker ek ervaar nie pyn nie. Ander het vrae en vrae en nóg vrae. Toe die beweging om my bed uiteindelik stil word, kom sit daar ‘n ander man langs my ma. Dit lyk of hy ‘n harde lewe agter die rug het. Hy sê hy is ‘n speurder. Hy vertel my hoe ek vir weke vermis was. Hulle het my motor verlate gekry in ‘n systraat in Melville. Hy vertel my dat hulle uiteindelik ‘n leidraad gekry het wat hulle gelei het na Stefan Wiese se huis. Hulle het ‘n klopjag uitgevoer op sy huis en tydens die klopjag is Stefan doodgeskiet. Hy was blykbaar ‘n reeksmoordenaar wat al vir bykans twee jaar die stad geterroriseer het. Hulle het my in ‘n baksteengebou agter in sy erf gekry. Ek was vir vier weker lank vasgebind, gemartel en verkrag.
Vasgebind? Dit kan mos nie wees nie. Ek herroep die gebeure van die donker vertrek. Die man. Die brood. Die water. Die briefies. Ek word oorval deur ‘n warboel van herinneringe en dit voel asof die kamer begin draai. Ek probeer my gedagtes sorteer in werklike herinneringe en verbeeldingsvlugte. Niks maak sin nie. Of … dalk maak dit perfekte sin. ‘n Fantasiewêreld. ‘n Ontsnapping.

Ek is alleen in my kamer. Dis net die meganiese klanke van die mediese toerusting wat die stilte breek. Ek lê en dink oor alles wat die speurder my vertel het. Ek het vrede gemaak dat hierdie die werklikheid is. Dat my verstand my weggesteek het in ‘n fantasiewêreld om my te beskerm teen die trauma waardeur ek elke dag gegaan het. Kon my verstand nie maar ‘n mooier of veiliger wêreld geskep het nie? Maar aan die einde van die dag is dit ‘n gelukkige einde na ‘n nagmerrie. Ek is veilig. Hy is dood. Ek sal weer opstaan.
Die hare in my nek staan skielik regop. Die kamer ruik na muskus en tabak. Ek sien ‘n gevoude stuk papier op my bedkassie en ek tel dit bewerig op. Ek hoef dit nie oop te maak om te weet wat daarin staan nie. Maar ek maak dit oop. Dis ‘n kort boodskap.
WORD WAKKER.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed