Jongste aktiwiteit:

ZELDA HFSTK 12

Dit is die Maandagoggend voor Zelda en Paul se troue. Zelda is in die kantoor besig met Charmaine wat nou al mooi reg gekom het en die winkel alleen sal kan hanteer. Zelda se erfporsie het uitbetaal en het hulle die verband op die besigheid afgelos en is sy nou n volwaardige vennoot van “African Art and Culture”. Paul is vroeg weg na n veiling toe op die buurdorp en is sy en Charmaine dus alleen in die winkel, Charmaine wag net dat Zelda die bank klaar opmaak om die geld te gaan bank.

Toe Zelda klaar is gee sy die banksakkie met die geldsakkie en is Charmaine by die deur uit bank toe.

Charmaine is net weg toe die groot Mercedes-Benz voor die deur stop. Zelda sien die motor dadelik raak met die vier insittendes en dan voel dit vir haar of haar hart wil gaan staan. Die deure gaan oop en die man wat agter die stuurwiel uitklim is onmiskenbaar Maneul De la Rocha met sy, nou grys, Clark Gable snor. Netjies geklee in n grys langbroek en n wit oopnekhemp slaan hy n indrukwekkede figuur wat enige vrou se bene sal laat lam word.
Langs hom klim n aantreklike donkerkop vrou uit, geklee in n netjiese grys baadjiepak met welige swart hare. Ook sy het n figuur wat enige jong man se bene sal laat vou, seker Maria, Rosa se ma.

Sy sien sy vir Rosa agter uitklim, in n swart baadjiepak en die welige swart krulle wat op haar skouers neertuimel, met n ou man wat aan die anderkant uitklim, seker oupa.

Zelda is te oorstelp om op te staan om hulle te verwelkom want sy het hulle nie nou al verwag nie. Rosa was baie geheimsinnig oor wanneer hulle gaan kom maar dan kry sy lewe en storm vorentoe. Hulle is al halfpad in die winkel in en is Rosa die eerste een wat sy met n omhelsing groet Al wat sy kan uikry is: “Rosa”, en toe loop die trane vryelik.

Zelda staan terug en dan is sy in Manuel se arms en al wat sy kan uitkry is: “My eie pa na al hierdie jare. My geluk is volmaak vandag”.

Daarna groet sy vir Maria en vir oupa. Maria groet haar met n handdruk en oupa ook. Hulle kan net Spaans praat en moet Rosa tolk wat daar alles gesê word. Dit is n deurmekaar gebrabbel wat Charmaine inwag toe sy van die bank af kom. Sy weet dadelik wie dit is want Zelda het haar vertel dat haar mense oppad is van verre Spanje af vir haar troue.

Koelkop stel sy voor dat Zelda haar mense huis toe neem dat hulle daar gaan kuier, sy sal alleen regkom in die winkel tot die ergste opgewondenheid bedaar het en Zelda weer haarself is.

By die huis gekom verneem Rosa waar Paul is en vertel Zelda hulle dat hy na n veiling toe is en eers vanmiddag sal terug wees. Manuel verstaan maar Rosa moet vir die ander tolk.

Hulle kuier die hele oggend amper om want daar is jare se gesels om op te vang. Wat Zelda opval is die indrukwekkende figuur wat oupa slaan. Netjies geklee in n grys pak klere het hy in n stoel gaan sit met sy kierie tussen sy bene nadat hy sy hoed afgehaal het en langs hom neergesit het. Wat haar die meeste opval is oupa se staalgrys oë. Indringende oë wat dwarsdeur jou kyk en besef Zelda waarom hy hierdie familie nog met n ysterhand regeer.

Saam met Rosa gaan maak sy vir hulle tee en is dit toe hulle sit en tee drink at sy hoor oupa sê vir Rosa iets terwy hy vir haar kyk.

Rosa moet weer tolk: “Zelda oupa vra om verskoning vir wat jou aangedoen is. Die familie het verkeerd opgetree om jou so weg te gooi en moes hulle ander planne gemaak het om toe te sien dat jy versorg is”.

“Sê vir oupa dat ek sy volle verskoning aanvaar en ek net bly is dat ons uiteindelik herenig is en ek saam met my mense kan wees”.

Rosa tolk en oupa antwoord terug wat Rosa weer moet tolk; “Oupa sê dat hy jou graag in De la Rocha Enterprises wil opneem as n stille vennoot om te probeer vergoed vir wat gebeur het. Jy is n n De la Rocha en dit kom jou toe. Moet nie weier nie Zelda, hy sal dit as n geweldige belediging beskou”.

Zelda kan nie glo wat sy hoor nie en kan net antwoord: “Sê vir oupa dit sal vir my n eer wees om deel van die familie te wees en n stille vennoot in De la Rocha Enterprises te word. Hy moet net verstaan dat my eerste verantwoordelikheid hier is saam met die man wat ek mee gaan trou”.

Rosa tolk en dan huiwer daar n glimlag om oupa se mond as hy Zelda nader wink. Toe sy by hom kom sê hy in Spaans wat Rosa moet tolk: “Jy maak n ou man se hart baie bly vandag om te kan vergoed vir n groot onreg wat gedoen is. Ek sal reël dat die nodige gedoen word sodra ek in Spanje terug is”.

Manuel tree tot die gesprek toe: “Ek verstaan dat jou ma net hier oorkant die straat werk. Ek sal haar graag weer wil sien om net te groet. Dit was moeilik om Maria te laat vrede maak met die gedagte maar sy besef ook dat jy my kind by n ander vrou is en dat sy sal moet vrede maak met die gedagte dat ons paaie na al hierdie jare weer moet kruis. Ek weet net nie hoe sal jou ma oor die gedagte voel nie”.

Gelukkig het Zelda die saak met Sharon bespreek toe sy gehoor het dat die hele familie vir die troue kom en kan sy sonder huiwering antwoord: “Ek het dit met haar bespreek en sy het nie n probleem daarmee nie. Sy het in elk geval n geheimsinnige vriend wat baie aande hier by haar kuier”.
Toe Paul later voor die winkel stop wag Zelda hom opgewonde by die deur in om hom die groot nuus te vertel dat haar mense uit Spanje gekom het

“Ou grote so die volgende paar aande slaap jy saam met hulle in die gastehuis sodat ek en Rosa die huis vir onsself kan hê en ek solank kan oefen om in daardie dubbelbed in jou kamer te kan slaap. Saans kuier ons hier totdat julle gastehuis toe gaan. Hulle is daar agter in die huis kom ek gaan stel jou gou voor”, babbel Zelda terwyl hulle die winkel instap en sommer agter uitstap huis toe terwyl Zelda voortbabbel: “Ek het hulle vanaand n braai belowe, klaar die vleis uitgehaal om te ontdooi, en ek het ma Sharon ook genooi om oor te kom”.

Paul kry nie n woord in soos Zelda babbel nie en toe hulle die sitkamer instap sak daar n gewyde stilte toe. Paul voel of almal hom meet terwyl Zelda hom eerstens aan oupa voorstel wat hom met n stywe handdruk groet. Maria groet hom ook met n handruk en dan groet Manuel hom met n stewig handdruk.

“Aangename kennis Paul. Dit is vir my n eer om my aanstaande skoonseun te ontmoet en hom vaderlik te vermaan om goed vir my dogter te sorg of die duiwel self sal jou kom haal”, groet Manuel vir Paul met n breë glimlag wat boekdele spreek.

Rosa laat nie op haar wag nie en druk Paul styf teen haar vas: “As jy darem nie op troue met my suster gestaan het nie het ek jou beslis vir myself gevat”

Hulle vind mekaar dadelik maar dit is of Maria effens afsydig bly. Paul het egter die familie stamboom saam met Zelda bestudeer en weet hy dat haar nooiensvan Duarte was Toe hy verneem of sy familie van die Duartes van Argintinië is vertel sy hom, met Rosa wat tolk, dat sy en Eva Peron, wat haar man opgevolg het as staatshoof niggies is.

“Die Peron familie wou haar nooit aanvaar nie en is sy, toe sy oorlede is, by die Duarte familie begrawe”, vul Paul die geskiedenis aan en dadelik het hy Maria in die palm van sy hand.

Die aand word tot laat gekuier na die braai en Paul saam met hulle gastehuis toe vertrek. Rosa het n bottel tuquella uitgehaal wat hard klap.

By die gastehuis gaan Maria en oupa gaan dadelik na hulle kamers toe en kry Paul, wat nog altyd n geweldige belangstelling in die tipe dinge het vir Manuel uit oor die Mafia.

Met n laaste drankie in die hand vertel Manuel hom meer: “Die De la Rocha familie was deel van die Spaanse Mafia. Oupa het egter saam met n paar ander familie hoofde weggebreek omdat hulle gevoel het dat die Mafia wil te veel inbreuk maak op hulle. Hulle het toe hulle eie organisasie gestig en sekere erekodes opgestel soos om mekaar te help en by te staan as dit nodig is, mense te ondersoek maar as iemand in die organisasie te na gekom word te reël dat die nodige vergeldingstappe geneem word. Om jou n voorbeeld te gee, een van die organisasie lede se dogter is onlangs in Mardrid gruwelik verkrag en vermoor. Die polisie kon die skuldige nie opspoor nie maar die organisasie het. Hulle het skuldige met sy lewe laat betaal en sy lyk voor die polisiestasie gaan neersit met n verduidelekende nota daarby”.

Nou wonder Paul erg en dit is of Manuel sy gedagtes lees: “Ons het jou ook ondersoek Paul. Ons het rekenaarmanne wat enige man kan ondersoek, tot sy bankrekening. Ons het alles bestudeer en het besluit dat jy vir Zelda n waardige man sal wees”.

Hulle vat laaste slukkies en dan praat Manuel weer: “Ek gaan vir jou n ring gee met n telefoon nommer daarin gegraveer. Rosa sal vir Zelda n soortgelyke ring gee. Slegs n juwelier sal daardie nommer kan lees en as julle ooit die organisasie nodig kry neem julle die ring na n juwelier toe om die nommer vir julle te lees. Julle kan die nommer enige tyd skakel want daardie nommer word dag en nag beman”.

Toe hulle hulle glase neersit en op staan om na hulle kamers te gaan oorhandig Manuel die ring aan Paul terwyl hulle mekaar n rustige nagrus toewens en na hulle kamers toe gaan.

Ook Zelda kry die aand n ring by Rosa nadat Rosa alles aan haar verduidelik het. Dit is toe Zelda vir Rosa vra: “Rosa is daar dan nie n spesiale man in jou lewe nie. Jy is tog n mooi vrou en die jongmanne in Mardrid breek seker hulle bene oor jou”.

Rosa kry so n veraf uitdrukking in haar oë voordat sy antwoord: “Daar was Zelda. Ek het Josè ontmoet toe ek twintig was. Ons was dadelik hals oor kop verlief en het al n troudatum vasgestel toe hy met sy Piper Cherokee in die Cantre Briese berge vasgevlieg het, hy was mal oor vlieg”.

Rosa kry trane in haar oë voordat sy aangaan: “Die ergste was die wag vir nuus nadat die vliegtuig vermis geraak het tot hulle die wrak gekry het. Hy was op slag dood en daarna was daar nog nooit weer n man in my lewe nie”.

Rosa druk Zelda skielik teen haar vas: “Toe ek hoor dat Paul geskiet is het ek yskoud geword en het die vraag by my opgekom of daar dalk n vloek op ons rus. Eers Josè en toe Paul. Gelukkig het Paul oorleef en ek glo julle sal baie gelukkig saam wees en dat jy gou die kind sal hê wat jy so begeer”.

Zelda staan op om na haar kamer toe te gaan: “Rosa ek hoop uit my hart uit dat jy ook iemand sal ontmoet wat jou so gelukkig sal maak as wat Paul my maak”.

Rosa glimlag maar net vir Zelda toe sy uit die kamer uitstap om te gaan slaap.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

1 Kommentaar

  • Ronel Janse van Vuuren

    "terwy" terwyl? Gaan jou teks na vir tikfoute - partykeer is dit die rekenaar wat vir homself dink en ander kere is dit maar net opwinde soos die storie homself skryf ;-) "aande hier by haar kuier”. Toe Paul later voor die winkel stop" 'n Dubbele spasie tussen hierdie paragrawe om tyd wat verloop het aan te dui. "tuquella" tequila "Toe hulle hulle" Toe hulle hul - lees bietjie makliker. O, hierdie familie gaan nog baie tonge laat klap by die troue :-) Lekker gelees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed