DIE PAD VAN JOU EN MY
Onthou jy nog
die pad van jou en my
se eerste punt
loop daar by
vrolik groet verby
Die bultjie op
tot bo by ken ek jou
dan gly ons af
by vrolik lag
tot onder in
plesier se draai
Gelykpad nou
verken se bosse deur
die vlak lê voor
met sinkplaat
hier en daar
tot anderkant
tevredevlei…
Verlief se draai
het ons onkant gevang
maar ai die uitsig
was so mooi!
Die steilpad uit
tot bo-op
liefde se plato
Die wêreld wyd voor ons
oneindig ver die horizon.
‘n Leeftyd
strek ons paadjie saam
deur baba drif
en kleuter kraal
tot kalwerliefde hul kom haal
By aftree hoogte
het ons afgesaal,
‘n wyle saam vertoef.
Die oudwordvlakte
lê nou voor,
soos altyd is jy neffens my,
ons loop ons dubbelspoor
By laaste groet se kruispad
het ons finaal bly staan,
die purper lelies het geblom hier
maar ons moes verder gaan,
Die pad kon ons nie deel nie,
hier moes ons weë skei.
Die einde van ‘n leeftyd
die pad van jou en my….
©Anton Bosch 20/03/2011
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.