Jongste aktiwiteit:

Swart kantjies vir ‘n vreemdeling

Ja-ja, ek het ‘trust issues’ – big time! Sommige noem dit privaatheid, ek noem dit sommer net die gebrek aan val-oor-jou-voete-vertroue en warm maar stadig op voordat my hart genoeg waagmoed toon om ten volle oop te maak en al sy derms te wys. Van my lyf práát ek nie eens nie! Daarby het ek in ʼn huis opgegroei waar my ouers gedreig het om ons drie susters elkeen in ʼn blik-broek toe te sweis. Dus, selfs die tandarts het nodig om ʼn troubelofte af te lê voordat hy na my tandjies mag kyk. Die res? Wel, hulle kans is nóg skraler…

Dalk het dit ook te doen met die feit dat die oomblik wanneer ek voor die dokter se lessenaar neersak, trek hy solank sy blok voorskrif-papiertjies nader en skryf iets neer nog voordat mens by “hallo” uitkom! Ek wou nog sê dat die by my enkel soos ʼn trekker band opgeblaas het en hy skryf iets vir my waterige ogies voor. “Sluk net hierdie pilletjie en jou lewe sal sommer baie beter lyk…” Die papiertjie word opgefrommel voordat my dik voet met vet toontjies verby die ontvangstoonbank kan hinke-pink.

Darem het almal nie dieselfde liefde vir pille nie, maar die besoeke is nie outomaties makliker nie…!

Dit neem ʼn hele paar dae om te besluit watter stukkie rek-kant vir Donderdag se afspraak gepas sal wees. Ingedagte krap ek in die laai tussen al die goetertjies, trek ʼn swart nommertjie daaruit. Dit moet nou net genoeg toemaak sonder om soos ouma se knielengte katoen-bloomer te lyk of dalk een van daardie knellende Spandex gedoentes… Laasgenoemde is in elk geval meer beloftes as bewyse en al wat dit regkry is om jou oë skeel te laat uitpeul terwyl die broek al jou asem benoud tot in jou boesem opstoot. Vandag is nie die regte dag vir sulke onvroulike ongemak nie, maar dit moet darem ook nou te wulps wees nie. Mens weet nooit wat in die volgende uur of twee gaan gebeur nie.

Senuweeagtig vryf ek oor die gladde satyn materiaal van my knie-broek. Span dit nie dalkies net ʼn aksie te styf oor die agterste rondings nie? Die hempie is darem lank genoeg om daardie deel toe te maak en ek knyp my oë byvoorbaat in skaamte toe by die gedagte dat ek so op straat gaan verskyn. Om so skraps geklee in die openbaar uit te gaan is werklikwaar ongewoon, maar vandag is die dag wat ek opsigtelik skandalig geklee die (voor)strate van die stad gaan aandurf.

Die man is modern en stylvol aangetrek, saggies op die oog. Nie juis iemand wat baie tyd vermors deur oor die gebrek aan reën en sy nuutste geel dahlias te gesels nie. Voor hy my nooi my om ook op die bed te kom sit, vra hy dat ek maar liefs van my hemp ontslae moet raak en te verruil vir een van daardie sexy stukkie lappies op die kas. (Dalk pla my hempie se helder kleur so bietjie?) En, “as jou bra ʼn hakkie aan die agterkant het, hou dit eers aan”… My ore brand onverwags so warm dat my silwer oorbelletjies so byna smelt en uitval. Hemp, OK. Bra, uhm nee. Vir daardie voorreg gaan jy ʼn ring aan hierdie vierde vingertjie moet steek en ʼn stewige ‘paw-print’ op ʼn amptelike dokument moet maak.

Teen die tyd weet ek ook nie meer of ek die streep bo of onder my middellyf moet trek nie, maar ek maak soos hy sê en ruk die helder pienk hemp met mening oor my kop. Die broek gaan bly – voorlopig. Ek hoop, ek bid eintlik nou net vir klein genades want broekloos gaan ek nie weer op ‘n vreemde tafel rond lê nie..

Heng, ek en Hubby is nou al 31 jaar getroud en hier sit ek en ʼn vreemde man uiteindelik heel alleen in ʼn vreemde kamer. Die bed is hard maar nie ongemaklik nie. Hy bekyk my so effens skuins op en af voor hy langs my neersak. Eintlik meer skuins agter my skouer, maar maak dit eintlik saak wáár hy sit? Al is sy hande koel, druk sy seningrige skouer warm en styf teen myne. Stadig en versigtig draai hy my teen sy skraal lyf vas… Ek moet erken ek is nogal benoud. Wanneer laas het ʼn vréémde man – enige man eintlik – my so draai-draai lekker gehanteer?

En ek word bevoel – van bo na onder en weer terug na bo. Ten spyte van die hittegolf is ek oortrek met hoendervleis. Daarmee saam word ek in posisies in gehelp wat ek nie gedink het ooit moontlik kan wees nie. Ek word behoorlik vasgedruk tot ek kraak. Heimlik wens ek Hubby wil my ook so nou en dan saggies-rof hanteer. Maar nou ja, mens kan ook nie jou brood aan al die kante gebotter hê nie.

Maar noudat ons twee verby die aanvanklike vreemde kennismaking is (eintlik meer ʼn versigtige dans terwyl ons mekaar opsom en ek besluit of ek hierdie keer my “trust issues” vrywillig-verplig sal moet neerlê), tik hy vriendelik met sy hand op die ander bed. Sy skraal vingers stoot die band van my kniebroek en al die kanterigheidjies daaronder, behendig af. Goeiste, die man weet beslis hoe om ʼn vrou uit te trek!

My hartklop versnel verwoed. Ek kan voél dit is reeds baie verder as verby daai donker sproet op my kruis en effe meer suid van die kraaklyn as wat ek met vriend of vyand sou wou deel.

Met moeite onderdruk ek die skielike impuls om óf my boude oombliklik in ʼn knelgreep saam te trek óf met my hand die ronde uitsig te versper. Die rooi gloed strek seker nou al tot onder my knieë. Maak of jy als gewoond is Ano, maak net of jy als gewoond is. Sal ook nooit erken dat ek nou so ver uit my gemaksone is, dat ek al helder oordag sterre begin tel nie! En, daar is geld ter sprake saam met hierdie uittrek. Erger nog, ek trek uit én ek betaal daarvoor! (Of sal ek saggies erken dat ek Hubby se kaart vir hierdie eskapade gaan ‘swipe’? Don’t judge, OK?)

Dit word ʼn stryd tussen hardloop en stil lê. Ek wens die aarde wil net vir my met bed en al insluk, maar gebede word oënskynlik selde in Gauteng verhoor.

Hoe lank neem dit hierdie man om tevrede te wees met wat hy ookal beplan? Nou eers weer op die ander sy draai. Hy knyp my been in ʼn knelgreep tussen sy eie knieë vas en met die aanhoor van ʼn verwoede gekraak, spring ʼn traantjie onverwags uit my oog. Oh great, nou gaan ek nog saam met die skaamte nog tjank ook? Daar is nie eens veel tyd om daaroor te wonder nie want die vent is onverwags klaar, loop sommer net weg en los my in stilte om my verskeie stukkies klere tot onder my kennebak op te trek. As ek soepel genoeg was, was my kop in ʼn gat – ek sweer, en dan het ek seker nou nog daar vasgesit!

Dit was op vele vlakke die laaste strek om by die einddoel uit te kom, maar die belangrikste is seker om vrylik en pynloos rond te beweeg. Broek op/broek af maak seker nie nou meer saak nie. Die middel het uiteindelik tog die doel geheilig.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed