Gister se onthou
my lief
die nagte raak nou langer
en die dae gooi laslappies
op die paadjies
waar ons eens geloop het
soms as oggendkou’ se verlange
hoendervleis oor my lyf,
skryf ek vir jou ’n brief
vertoef ’n oomblik
in die hitte van ons argief
want êrens in ’n kas
tussen motte en ’n jas
lê ons drome weggesluit,
met net geroeste stiltes wat getuig
dat daar eens’n somer was
en soms (net soms) ruik ek jou lag
soos dit huppel
deur die witgerypte nag
en ek wonder:
as gister se onthou
jou langs die pad na môre kry,
of jy (soos ek) ’n wyle sal vertoef
of ongestoord net aanhou ry…
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2018 projek