November – 500 woorde

November – ’n warrelwindmaand aan die einde van die jaar. ’n Maand wat jou amper onverhoeds betrap, want hy voorspel Desember, vakansiemaand, krismis.
As ’n mens aanvanklik aan November dink, is daar eintlik niks wat jou opgewonde maak nie. Ja, dis nog lente, maar nie meer ‘heerlike lente, die winter’s verby’ nie. Ook nie die mooiste, mooiste maand van Oktober wat waaragtig die mooiste maand hier in die Overberg is met sy rypwordende graan en sy fynbos in volle blom nie. Tog het November ’n bekoring van sy eie.
November vertel van rypheid. Dis ’n maand van afhandel, seker die mooiste Afrikaanse woord wat daar is. Ja, die dolle menslike gejaag om die jaar afgehandel te kry voor Desember aanbreek en almal see toe gaan, maar ook ’n maand van afsluiting in die natuur. Die blomme raak uitgeblom en skiet saad. Ook op die graanlande kondig die natuur ‘die einde van ’n seisoen’ aan. Soos die ou FAK-liedjie beaam:
‘As eens weer die akkers vol geelrype graan
met die gloed van die aandhemel straal,
sal juigende harte, van vreugde voldaan,
die oes van die lande gaan haal.
Die gerwe swaai op teen die geurende mied –
Dis die lente se einde en kroon.
En suisende sonbesies sing saam die lied:
die oes is die arbeid se loon.’
En wát ‘n beloning is dit nie! Veral in ’n wonderlike oesjaar soos vanjaar. Voorwaar ’n beloning op ’n jaar se arbeid! ’n Genadegawe van Bo. ’n Geskenk direk uit die hemel. En selfs al saai ons nie meer self nie, oes ons nie meer self nie, het ek genoeg oesjare in my lewe beleef om die opwinding daarvan te ken. Die vreugde. Die lang ure werk – dag-en-nag werk om alles afgehandel te kry. Die moegheid.
In November begin ons regmaak vir die see. In my kinderdae het tannie Mags kom help en is daar koekies gebak, blikke en blikke vol. Vrugtekoeke, ook blikkevol. En lang beskuite in sulke regop, vierkantige parrafienblikke wat omskep is in beskuitblikke. Ek berei steeds gaar kosse vooruit soos my ma: beesstert, beestong, Frikkadelle en ander geregte om sommer net vinnig uit die vrieskas te haal. By die see wil ons tog nie so hard werk nie, maar wel lekker eet. Of hoe? Hierdie jaar oefen ek Lentegeritsel deur Sinding om op my vriendin se verjaarsdag te speel. En ek ry met my driewielfiets op die plaas.
Vir skrywers is November ook NaNoWriMo-maand waar jy vyftigduisend woorde moet neerpen in die een maand as jy ’n NaNoWriMo-wenner wil wees. ’n Marathonmaand. ’n Fokusmaand. Want om dag vir dag eenduisendseshonderdsewe-en-sestig sinvolle woorde te skryf is meer as ’n marathon. Dis eerder ’n Camino. ’n Skryf-Camino!
November, jy is glad nie ’n maand wat ongesiens verbygaan nie. ’n Maand wat geïgnoreer kan word nie. O nee, jy is ’n maand waarmee rekening gehou moet word. Al wat ek van jou kan vra is, November, moenie té haastig wees om klaar te kom nie, hoor jy?
Toortsie
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek