AMETIS
“Ametis” het jy gesê
toe rinkel klank
soos klippieklokkies
deur my lyf
en kleur my wêreld pers en violet
en op daardie oomblik
breek die dag se grou
en word ‘n vonkeluur
vol lank gelede se onthou.
*
Pa leun teen die deurkosyn
in sy hand, ‘n bruin kardoes.
Ek laat die steentjies tuimel
in ‘n hopie op my bed
en stryk dit met my palm plat.
Die jaspis, wat so dieprooi roes
maak amber vuur in die agaat
die tieroog lê – vol strepies –
neffens rooskwartspienk
en smeulendbruin granaat
maansteen wit langs groen smarag
maar ek was só bewus
dat lig skakeer en sluimer
in die hart van ametis.
*
“Ametis” het jy gesê
toe rinkel klank
soos klippieklokkies deur my lyf
en breek die dag
in pers en violet
vir ‘n wyle’t ek weer kind geraak.
En verstom het ek bly wonder
hoedat die klank en kleur van klip
. . . ‘n vrou soos ek
so bróós kan laat.
© C. Shaw
7 April 2016
5 Kommentare
-
-
Kiekies
Skitterend!!!! Die klippies en die puik gedig! Ametis ook een van my gunstelinge tesame met peridot en tanzaniet.
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
Nes die ametis, jaspis, tieroog en ag sommer alles wat mooi en lieflik is is hierdie pragtige werkie van jou. (Vergeet nie om jou Skepper te dank vir soveel talent nie...!!!)