Jongste aktiwiteit:

Die aap op jou rug (Opdrag 8)

Elke taal het sy eie unieke gesegdes. So ook is Afrikaans ‘n diverse vrugteslaaitaal wat skatryk is aan eie unieke idiome, slagspreuke en sêgoed. Dis ‘n nalatenskap om op trots te wees en een wat ons aan die lewe moet hou. Dit maak ons taal en literatuur kleurryk en interessant.

Deur digkuns as instrument te gebruik, kan idiome voortleef in ons taal.

Ordinatio idiomatum / Idioomboeket

Idioomboeket is ‘n digvorm wat hoofsaaklik, soos die naam daarop dui, uit ‘n versameling of rangskikking van idiome en slagspreuke bestaan.
Dié digvorm word gebruik om ‘n probleem indirek aan te spreek en sodoende ook ‘n lewensles te openbaar. ‘n Feit, hartsaak of ware gebeurtenis kom deur middel van ‘n mengelmoes van slagspreuke, (wat saam sin maak), op ‘n komiese wyse op die lappe.

Vereistes:
1. Die titel van die gedig moet ‘n idioom of slagspreuk wees.
2. Ten minste drie idiome moet voorkom maar meer is beter.
3. Spesifieke rymskemas is nie noodsaaklik nie, jy kan jou eie bou soos jy vorder en selfs kombineer.
4. Nie meer as 25 versreëls nie.
5. Tipografie moet voorkom
6. Metafoor en vergelyking kom deurgaans voor.
7. Dit moet betekenisvol wees
8. Metrum is nie spesifiek maar moet deurgaans voorkom.
9. Alleterasie en assonansie word deurgaans gebruik
10. Die gedig moet uniek wees, sonder clichés.
11. Dit moet komies wees.
12. Dit moet lekker wees om te lees.

Die aap op jou rug

Laat ek vandag maar bieg
sonder ylpraatjies of om te lieg
oor hoe jakkals ‘n honger hart
met mooi broodjies kan bedrieg;
soos daai aap op die rug
wat jou hinkepink laat swig
jou kognisie katswink laat
met vier stewels in die lug

– té laat vir jou –
om ‘n vurk in die hef te steek
glip hy sy aap uit die mou
– te gou –
het liefde deur die mure
van Jerigo gebreek
met jakkalsdraai beloftes
wat met leuens vetgestop is
en ‘n slapriem
wat die hart op horings neem –
wyl jy jouself horende doof
oor ‘n dooie rot verheug
skrop hy nes agter die kraalmuur
waar hy owerspel kan pleeg

en – as spyt jou ooit ‘n snotklap
met die stiegriem toedien
onthou hoe jy die mistrap
deur die vingers kon sien…

©Loretta Szikra




7 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed