Die Meesterstuk
ek staar na jou meesters werk
geen kreatiwiteit was ingeperk
jy het dit skelm vir my geskilder
so perfek geskep vir my
jy het my hart so goed geken
die vissers wat spook met ’n net
die horison in pienke gekleur
oilskins weerkaats groen in die water
die vissers lag so lekker oop bek
en die visse spartel op droë sand
ek verdwaal in hierdie toneel
sonder dat dit my ooit verveel
stukke verf sit aangeplak
met spatels dik gesmeer
die tekstuur laat alles lewe
en laat sing my hele wese
my siel smag na jou menswees
verdiep daar voor jou esel
hoe jy my opgewonde kom roep het
met die geboorte van ’n meester
jy het dit nooit vir my gegee nie
my nooit kom roep nie…
sou so graag in jou oë wou kyk
opgewonde oor hierdie werk
die skilder in jou het stil gegaan
die res is stuk vir stuk opgevreet
die donerse kanker het gewen
’n gat uit my lewe geruk…
ek het dit onder jou bed gekry
vir maande was dit heeltyd daar
net ’n kort boodskap agterop
sorry, ek het die emmer geskop
2 Kommentare
-
Anze
Eina woorde hier vasgepen...
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
goed geskryf met 'n treffende seermaak slot :-)