Geld bepaal wie ons is.
Almal van ons het al gedroom oor geld. Soms droom ons om net genoeg te hê om gemaklik te lewe en partymaal wens ons, om soos bekendes te kan vakansie hou op eksotiese bestemmings en op seiljagte rond te kan karjakker. Baie meer mense bid vir net genoeg sente om vanaand ‘n brood op die tafel te kan hê, iets in die maag. Ek weet ook daar is enkel ma’s in ons land wat baie dae met huilende harte in die nag wakker lê, omdat hulle dalk nie geld het om ‘n seun of ‘n dogter wat presteer, finansieel te kan bystaan om sy of haar talente te kan ontwikkel nie. Die hoop wat almal het vir ‘n paar Rand meer, was destyds so mooi in woorde uitgebeeld deur die liedjie van wyle Lucas Maree, met die gepaste titel “Ek sou kon doen met ‘n miljoen.” Ons het almal lekker saam gesing en geassosieer, en dit het ons sommer beter laat voel.
Min van ons het begrip hoe dit voel om vir die derde agtereenvolgende aand weer honger op straat te moet gaan slaap nie. Was jy al regtig eenkeer so honger? Het jy al oorweeg om agter ‘n restaurant in die asblikke te gaan soek vir oorskiet, en weggejaag te word deur die bestuurder wat die kos vir sy vriend se varke bêre. Het jy al die walging en die woordelose veroordeling in iemand se oё gesien as daar gevra word vir net ‘n broodjie, om net vir die persoon se siek vrou of kind iets te kan gee om te eet. Miskien bring dit ons terug by die gedagte dat as ek en al my bure elke dag net voor ons huis vee, sal die straat skoon wees. Maar wat word van dit wat voor die besems was, wie gaan dit optel.
Een aand ry ek en my vrou in ‘n vreemde dorp op soek na ‘n wegneem restaurant. Daar is ‘n eenrigting wat veroorsaak dat ons noodgedwonge, tweemaal verby dieselfde verkeerslig ry. Sy sien daar sit ‘n man en vrou op die sypaadjie by ‘n klein vuurtjie in die koue. Net daar vra sy my of ons nie maar vir hulle ook iets kan kry om te eet nie. Dit is haar geaardheid, sy sal altyd die wat swaarkry onder haar vlerk neem. Ek is dadelik sommer vies, maar ek ken my vrou goed genoeg om nie ‘n stryery te begin nie. Later toe ons terugkeer, moet ons hulle ry en soek, want ons het nou die straat vergeet en nou is dit nog donker ook, en die pad is besig. Uiteindelik kry ons hulle, en ek stop. Maar hulle sien my nie, en ek moet uitklim en na hulle toe stap om die kos af te gee. Die ou tannie sien my nader kom, en staan op en stap nader. So half skaam sê ek vir haar ons het vir hulle iets gekry om te eet. Ek was op haar reaksie nie voorbereid nie. Jy sien, in haar oё is daar waardigheid, pyn, trots, ontbering, en weerloosheid. Die trane loop oor haar wange sonder ‘n snik. Hierdie vuil verwaarloosde vrou gooi haar arms om my, en druk my teen haar vas. Maar dit wat sy vir my sê, sal my vir die res van my lewe bybly. “Ek het vandag vir die Here gevra om vir my ‘n Engel te stuur sodat my ou man net vanaand iets het om te eet!” Ek en die tannie het net daar saam gestaan en huil, sy oor God vir haar ‘n Engel gestuur het, en ek omdat ek besef het dat Hy my vrou as Engel gebruik het. Ek sal nooit weer in my hele lewe huiwer om te help as ek kan nie! Wil jy weet hoekom nie? Omdat die beloning so groot is!
Soms moet ons verby die alledaagse goed kyk, en net die mens sien wat God raaksien. Soms moet ons net besef dat Hy geen waarde heg aan dit wat vir ons belangrik is soos geld, motors, huise en posisies by die werk en in die samelewing nie. Daardie tannie het niks gehad nie, behalwe vir God. En vir haar was dit die dag genoeg. Hy het op daardie dag vir haar, met haar deurmekaar hare en vuil vingernaels ‘n wonderwerk gedoen. Hoekom? Ons moet ophou om mense te oordeel, want onsself is ook mense. Dit maak nie saak of die persoon op straat slaap omdat hy dwelms gebruik of aan drank verslaaf is of te lui is om te werk nie, want God het hom lief, en haat hom nie. Hy haat slegs die sonde wat ons doen, want dit verwyder ons van Hom. God het nie sy Seun Jesus, aarde toe gestuur om vir heilige mense te sterf nie, maar vir sondaars soos ek, sodat ons die ewige lewe kan erf. Vir die vrou wat gestenig sou word het hy gesê, gaan en sondig nie meer nie. Want daar het nie een oorgebly met ‘n klip in sy hand wat wou gooi nie. Hulle het besef, as hulle die klip gooi, hulle eintlik hulleself tot die dood veroordeel.
God het ons opdrag gegee om die weduwees en die weeskinders te versorg. Dit sluit ook tog die weerlose en arm mense in. Ons moet ons naaste lief hê soos onsself.
Ek kan soms nie help om te wonder hoe daar miljoene der miljoene Rande spandeer word op sinnelose goed soos sport, vuurwerk vertonings en musiek konserte terwyl ons as mense so te se bo-oor hierdie weerlose man’s, vroue en kinders hardloop om dit by te woon nie. Sonder eers ‘n gedagte aan die duisende en derduisende mense wat gevoed kon word met dit wat ons vir vermaak spandeer nie. Ek blaai deur ‘n tydskrif en staan absoluut verstom om te sien wat mense vir ‘n ontwerperspot betaal, en ek besef met daardie geld kan ek tenminste tien mense ‘n behoorlike ete gee. Al hoe ons hierdie waansinnigheid sal stop, is deur net ‘n kopskuif te maak, en as ons besef die ou aluminium pot wat by supermarkte verkoop word, net dieselfde lekker kos kan maak. As ons ophou om die sport te verafgod, wegbly by die vuurwerk vertonings en in ons motors en by die huis musiek luister, sal die promotors nie hulle mijoene van ons ontvang nie, sal ons geld hê om ons naaste mee te help? Ek weet nie!
Maar ons as Suid-Afrikaners kan wondere verrig as ons saamstaan. Ek staan verwonderd om te sien hoe boere hulle medeboere te hulp snel met voer, gekoop met die geld wat geskenk is deur duisende goedhartige mense. En geld wat geskenk word vir mense wat na ‘n huisroof in die hospitaal beland sonder medies. Daar is nog daardie iets in ons oor wat ons laat help. Of dit uit geloof is en of dit soms dalk deur media gedryf word, weet ek nie, maar solank dit by die regte mense uitkom, en in die regte gees gegee word, kan ons almal tog ‘n verskil maak. Een ou tannie op ‘n slag!
©Vossie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.