Jongste aktiwiteit:

GRENSMENS

GRENSMENS

Sy’t belowe sy kom terug.
Sy was nooit weg nie; is ook nie hier nie –
tas steeds bedwelmd rond in die lug.
Voel niks méér as haar skadu’s teen die muur nie.

Dans op tafels, maak amok en land dan op straat – net ’n dolleë siel.
Binne-die-lyne-inkleur kon haar oerverlede nie uitwis:
Bagasie uit generasies is wat sulke slagoffers verniel.
Met ’n vloekgeen in haar pad kon sy die bloedvloed nie mis.

So jammer my kind! Maar jammer is bloot ’n verlammer
wat voorregte ontneem van besorgde ouers;
goeie intensies bevlek; op mislukking hamer;
en ’n beskuldigende Satanskleed vleg om regverdiges se skouers.

Die oerdrang van monsters skrik lyfies seer-stom. Vir altyd. So bly hul kind
wat angstig watertrap en gaan spartel langs die lyn wat beloftes goël en toor!
En tog … ons bly glo sy sal wel haar spoor terugvind,
en daai moorddraad los wat haar belieg en bekoor.

Op ons knieë sal ons bly! Jy kan hoeveel keer gly
oor kranse waarop jy so flankeer met die donkerste swart!
Jou eie humeur gaan jou eendag gryp, jou impulsies mag glip en jou dalk bevry
van kettings wat jou jarelank bind aan smart.

Maar jy sal altyd ons positiewe lading wees.
Ons dogter wat pal langs die doodsgrens wóú drentel.
Geniaal, dog so eiewys – diep gevoelige gees;
buitestander wat nie in die wêreld se baan wou wentel.

Wat gedurig afgedwaal en teruggekyk het; so van vêraf –
tog wóú deel wees van ’n “mens-tot-mens”.
Maar te vinnig vertrou, verbrand het … nerfaf.
Net wou behoort: ’n huis, twee komma vier kinders en ’n witgekalkte “fêns”.

– Charlene Jordaan Kotzé

{Dit beskryf die pyn waardeur geliefdes gaan van mense wat ly aan Grenslyn Persoonlikheisdversteuring (Borderline Personality Disorder)}.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed