In die lig van ń sterwende maan
Een aand op ń verlate strand
het jy die aandster vir my gegee
saggies gesê – “o bliksem maar die liefde brand” –
en trane uit jou oë gevee
Die sekelmaan het koepelboog
oor ons naaktheid gehang
Onder sterrereën se skitter-oog
het ons geswig voor liefdesdrang
Met asem sag soos môredou
en lippe alomdeur my hart se weë,
het jy my ingetrek en hardop gesê: “Onthou –
ek het jou lief soos die maan vir die see!”
Maar diep in my het ek geweet
ons laaste uur sal gou aanbreek –
as die sterre wegsink in hul towerkleed
en gate vir die son los, om haar voelers deur te steek…
en jý jou dors vir my geles –
na minnesoen weer heengegaan,
met die aandster in ń Consol-fles
in die lig van ń sterwende maan.
* Ballade
@Loretta Szikra 25 Oktober 2017
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carla Visser
Jou tower met jou pen! Ek is mal hieroor!