Jy is oral hier
Jy was langs my toe ek gist’raand
“Walk the line” kyk in die sitkamer,
jy is by my as ek aan tafel sit en bid,
jy staan teen nege uur buite in die winterson
en wag saam my dat die tenk moet oorloop,
onder ‘n kaal perskeboom
sit lees jy rustig jou koerant
op ‘n witgeverfde draadstoel,
drink saam my rooibostee
en gesels oor ditjies en datjies.
Smôrens help jy my die swaar garagedeur oplig
in die winterkoue,
jy dra al my Pick & Paypakkies…
Sondae gaan jy saam kerk toe:
ons skouers raak aan mekaar,
saans voor slaaptyd droog jy my trane af
as ek nog een keer wéér luister
na Roger Whittaker se “Last Farewell” –
As al my onthou my toevou en versmoor, verdrink,
is dit aan jou
wat ek in liefde aanhou dink.
Elizabeth Kendall ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.