Jongste aktiwiteit:

Krag van die GEBED — Stefan von Jankovich

Krag van die Gebed

SIELESALF:

Ene Stefan von Jankowich het vertel van ‘n motorongeluk toe hy in Switserland was. Dit was so erg dat hy daarna ses maande lank in koma gelê het.

Dit was ‘n heerlike dag en die pad was glad, taamlik gerade en oop. Die bestuurder druk die pedaal op 110 kmh deur. Daar vóór verskyn ‘n swaarvoertuig wat teen 80 kmh op hom afstuur. Die krag van die botsing ontspreek 190 kmh teen die muur. Hy sê hy het soveel bewussyn bybehou dat hy die sirkel van mense om hom kon waarneem, die ongevalhelpers: polisie, nooddokter, medics, brandweermanne met die ysterskêre, alles. In die agtergrond tussen die koppe en skouers van die omstaanders bemerk hy ‘n vrou. Hy het gesien en — tussen al die lawaai deur — gehoor dat sy ‘n gebed prewel. Hy was nie ‘n Switser nie maar het alles duidelik verstaan wat sy gesê het, ofskoon sy so ver agter gestaan het en ofskoon sy in haar sterk dialek gepraat het.

Ses maande later toe hy uit die koma kom, het hy gesê dat hierdie gebed van ‘n wildvreemde vrou vir ‘n onbekende padongeluksoffer vir hom „salf vir die siel” was.

Von Jankovich was ‘n Romeense argitek en onverbiddelike materialis (natuurwetenskaplike) en het ‘n boek geskryf waarin hy vertel oor hoe hy na hierdie motorongeluk in 1964 in Switserland vir ‘n tydperk van vyf-en-‘n-half tot ses minute „breindood” was.

[Stefan von Jankovich: ICH WAR KLINISCH TOD – Der Tod: mein schönstes Erlebnis; (Ek was klinies dood — Die dood: My mooiste beleefnis) München/Duitsland, Engelberg/Schweiz; Drei-Eichen-Verlag; 1985.

ISBN 3.7699.0438.9]

Soos dit alte dikwels in hierdie lewe gebeur: Skaars het ek die snipseltjie hierbo gepubliseer, toe kry ek hierdie boek in die hande: Ons het vakansie gehou by ‘n vriendin van my vrou, en sy het boeke uitgelê wat ons voor ons lig uitmaak, kan lees. Aldrie het as tema nadoodse beleefnisse, aldrie uit verskillende gesigspunte of sienswyse geskryf. Natuurlik het ek as eerste die Von-Jankovich-verhaal gegryp; natuurlik is in minder as ‘n week se aande voor ek inslaap nie genoeg tyd om die boek uit te lees nie. (Ek sê my vriende – Julle praat vinniger as kan hoor. En nou moet ek byvoeg – Julle skryf vinniger as kan lees! Dit so terloops.) Hy beskryf hoe hierdie beleefnis sy hele lewe verander het, hoe hy ‘n heeltemal anderse lewensstyl aangeneem en denkrigting ingeslaan het, wat ek nie alles kon lees nie. In elk geval het ek die besonderhede van die voorgang genoteer:

Jankovich het uit Romenië na Switserland getrek en ‘n argitektuurpraktyk begin: hy het ‘n afspraak met ‘n sakeman by ‘n perseel in ‘n ander kanton gehad, en altwee het saam in die ander man se rooi sportmotor soontoe gery. Op die oop pad het die kar ‘n spoed van 110 kpu bereik toe ‘n vragmotor hom op die verkeerde kant van die pad teekom. Dit was iemand wat ‘n militêrkonvooi wou verbysteek. Dis nie verbode nie, maar word nie aangeraai nie – sekerlik in geen land ter wêreld nie. Dit ís ook moontlik wanneer die voertuie die voorgeskrewe afstand tussen mekaar hou, sodat die verbysteker kan inglip sou daar verkeer van voor kom. En daar wás genoeg plek, die soldate hét die voorgeskrewe afstand gehou. Maar die vragmotorbestuurder wou aanskynend buig of bars aan die eerste in die kolonne ook nog verbyry . . . En dit het gebars.

Ek weet nie wat die voorgeskrewe spoed vir ‘n militêre konvooi is nie (60? 80? 90?), maar hy moes dit oorskry het om hulle te wil verbysteek. Dus was die gesamentlike spoed van die botsing dog waarskynlik om en by die 200 kpu. Die sakevriend het by 110 hard gebriek. Te laat. Op die foto’s is die pad vol dik swart remspore, tot war die voertuie mekaar getref het. Jankovich is etlike meter ver uit die kar deur die windskerm geslinger en het op die pad vorentoe beland.

Toevallig was ‘n mediese doktor dadelik daar en het probeer om sy mond met ‘n stuk hout oop te maak. Sy mond was vol glassplitters en daar was soveel gebreekte bene, ook sy ribbekas, dat dit nie moontlik was om hom kunsmatig te beäsem nie. Die doktor wou juis sê dat dit te laat was en dat die eerste-hulp-mense kon gaan, daar’s vir hulle niks nie („exitus”), toe ‘n jong tandarts uit Hamburg uit sy kar spring en sê, „Mag ek maar, meneer die kollega?” en steek hom ‘n adrenalienspuit in die hart.

Sy kliniese dood het tussen vyf-en-’n-half en ses minute geduur, en in dié tyd het hy sy „lewensfilm” gesien, het die oordele oor sy dade en versuimnisse beleef, het ‘n voorskou gehad van sy opname in ‘n heeltemal anderse wêreld vol kleure wat swaai en tril, en het uit die voëlperspektief alles klaar en duidelik waargeneem wat daaronder op die ongelukstoneel plaasvind. Ook die episode met die boerevrou wat in haar dialek vir hom gebid het. Mindestens twee jare later moes hy herhaaldemale in die hospitaal opgeneem word om nog ‘n korrektuur en nog ‘n korrektuur te laat maak.

Sý verhaal is bietjie anders as die staaltjie wat ék daaruit aangehaal het: Dit gaan om ‘n ingrypende verandering in sy lewe, sy manier van dink, sy sig op die wêreld, sy perspektiewe vir die toekoms. Nie omdat hy ‘n kreupel geword het nie (het hy nie), nee dit was ‘n volledige omdop van sy lewe, iets psigies, iets met die siel, met die gees te doen. Nie iets fisies, materiaals nie. Ek kyk of ek ‘n ander eksemplaar in die hande kan kry en probeer om ‘n resensie daarvan maak.

Eienaardig is hoeveel „toeval” daar saamspeel: Dat hy op die laaste nippertjie besluit het om níe met die trein te ry nie; dat sy sakevriend hom genooi het om saam te ry; dat die ander bestuurder volhard het om te oorsteek ofskoon daar plek tussen die militêrvoertuie was: dat ‘n mediese doktor so te sê onmiddellik op die toneel afgekom het; dat die jong tandarts ‘n paar minute later met ‘n adrenalienspuit opgedaag het; dat die vrou gebid het; dat die hoofarts in die plattelandse hospitaaltjie gedurende sy vakansie gou by die kantoor ingeloer het, en dadelik geöpereer het . . .

Hier is die titels van die ander twee boeke, waarvan my vrou díe deur die Amerikaanse chirurg gelees het. Onse gasvrou het my toegelaat om die boek deur die Suid-Afrikaner uit te leen, en ek wil miskien ook iets daaroor skryf.

[Dr. Med. Eben Alexander: BLICK IN DIE EWIGKEIT – die faszinierende Nahtoderfahrung eines neurochirurgen („. . . nadoodse beleefnis van ‘n neurochirurg”); 2013; München; Ansata-Verlag. ISBN 978.3.7787.7477.9]

en

[Martin Pistorius: ALS ICH UNSICHTBAR WAR – die Welt aus der Sicht eines jungen, der 11 Jahre als hirntod galt („Toe ek onsigbaar was – die wêreld soos gesien deur ‘n seun wat as breintod verklaar is”), 2012; Köln; Bastei-Lübbe Taschenbuch, Band 60356. ISBN 978.3.404.60356.5

Oorspronklik.: „GHOST BOY”; Simon & Schuster UK Ltd; 2011]

(Toom)

©5e.Februarie2017.________…ooOoo…_______________.(2013).tje

„„„




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed