Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Laat ons oor liefde praat. (BRONS)

Deur Marlene Erasmus
Datum gepubliseer: 27 Februarie 2021 Aantal woorde: 770 234 Kere gelees 14

Laat ons oor liefde praat.

Seker die onderwerp waaroor daar nog die meeste geskryf, gepraat, gesing en gefilosofeer is. Liefde omsluit ʼn kombinasie van toestande, geestelik en emosioneel, wat kan varieer in gewoontes en tot diepe aangetrokkenheid kan lei. Die tipe aangetrokkenheid dui op die gevoel van liefde wat verder strek as blote guns of gewone vriendskap. Daar is ontsaglik baie uiteenlopende voorbeelde van liefde. Dink bietjie hoe verskil moederliefde van die liefde vir jou gade, of liefde vir kos of musiek om paar te noem. Liefde is ʼn warm gevoel van geneentheid of gehegtheid aan ʼn persoon of ʼn saak waarin jy glo. Liefde beskik oor eienskappe soos deernis, toegeneentheid en vriendelikheid. Liefde moet nooit verwar word met verliefdheid, wat ʼn neurobiologiese verskynsel is nie.

Daar bestaan ʼn opvatting dat liefde die faktor is wat mense bind as daar lewensbedreigende gevaar ontstaan.

In die ou antieke era het Griekse filosowe verskillende tipes van die liefde identifiseer:
Storge      familie liefde
Philia        vriendskaplike liefde
Eros          romantiese liefde
Xenia        gas-liefde en
Agape      goddelike liefde.

As jy die diversiteit van al die gebruike en definisies kombineer met die komplekse gevoelens wat daarmee gepaardgaan, is dit uiters moeilik om liefde te beskryf.

Ons kan egter duidelik onderskei tussen onpersoonlike en interpersoonlike liefde. Wanneer daar na liefde vir ʼn saak, beginsel of selfs voorwerp verwys word, en daar is nie nog ʼn persoon betrokke nie, sorteer dit onder onpersoonlike liefde. Dit kan ook bekend staan as: Altruïsme of selfloosheid. In kort is dit die beginsel waar ander se welsyn belangrik geag word. Altruïsme of selfloosheid is die antoniem van selfsug.

Interpersoonlike liefde is duidelik die liefde tussen verskillende mense. Die vorm van die liefde dui op ʼn meer intense sentiment as om slegs van ‘n persoon te hou. Aan die anderkant van interpersoonlik liefde kry jy ongelukkig ook die geval van onbeantwoorde liefde, waar die gevoel van liefde nie erken, aanvaar of beantwoord word nie. Interpersoonlike liefde loop nou saam met interpersoonlike verhoudings. Dit is die liefde wat jy vind wat daar tussen familielede, paartjies en goeie vriende bestaan.

Alhoewel dit filosowe en godsdienstiges is wat in ou antieke tyd die meeste oor die onderwerp van liefde bespiegel het, is daar in die 20ste eeu ook deur die wetenskaplikes gespekuleer. In die meer afgelope tye het die wetenskappe van die antropologie, neurowetenskap en biologie ook bydraes gemaak om die verskynsel van liefde beter te verstaan.

Daar is verskillende basisse van die liefde. Ons kan die onderskei as: biologies, sielkundig en evolusionêr.

Die biologiese basis is die tendens om die seks-aspek van liefde te sien as ʼn funksie van die soogdier soos byvoorbeeld honger of dors. ʼn Eertyds antropoloog wat menslike gedragspatrone nagevors het verskil egter van die tendens en deel die liefde in drie fases in:
* passie,
* gevoel van romantiese aangetrokkenheid en
* ʼn diepe gehegtheid.

Onder passie word verstaan die gevoel van seksuele begeerte.

Gevoel van romantiese aangetrokkenheid dui dit aan wat iemand aantreklik vind en najaag.
Diepe gehegtheid is ‘n gevoel van geborgenheid, veiligheid en sekuriteit.
Omrede passie en gevoel van romantiese aangetrokkenheid as tydelik gesien word, word ʼn derde fase benodig vir langtermynverhoudings: ʼn diepe gehegtheid.

Diepe gehegtheid is ʼn skakel wat blywende verhoudings tot gevolg het. Diepe gehegtheid is oor die algemeen op verpligtinge soos byvoorbeeld die huwelik en kinders gebaseer maar kan ook op harmonieuse vriendskap gebaseer word.

Sielkundige basis vind gestalte in die beeld dat liefde ʼn sosiale verskynsel is . Robert Sternberg, die sielkundige het ʼn driehoek-teorie waar hy aanvoer dat liefde drie elemente het: intimiteit, toewyding en passie. Intimiteit vind plaas as twee mense hulle lewens aan mekaar toevertrou en kan gevind word in gewone vriendskappe, romanse of liefdesverhoudinge.
Toewyding is die hoop dat die verhouding permanent en blywend van aard is.
Die derde element van die liefde is passie (en ook seksuele aantrekkingskrag). Passie kan gestalte kry in verliefdheid sowel as die romantiese liefde.

ʼn Feit is dat alle vorme van liefde gesien kan word as samestellings van hierdie drie elemente.
Jy kan sê “Ek hou van”, dan bevat dit intimiteit. “Verlore verliefdheid” bevat dalk net passie. Sinnelose, leë liefde behels weer toewyding, maar die ander elemente ontbreek.
In romantiese liefde vind jy intimiteit sowel as passie. Omgee-liefde bevat intimiteit en toewyding. In die geval van dwase liefde vind jy passie en toewyding. Ware volkome en volmaakte liefde sal al drie die elemente bevat: intimiteit, toewyding en passie.

Evolusionêre sielkunde poog om vir hele paar redes die liefde as ‘n oorlewingsinstrument te omskryf.
Vroeë navorsers soos Charles Darwin het uniek eienskappe van menslike liefde teenoor ander soogdiere aangeteken en het die liefde as ʼn bepalende faktor uitgewys as ondersteuningstel wat die ontstaan, ontwikkeling en uitbreiding van Homo Sapiens moontlik maak.

©Marlene Erasmus
27/02/2021

(791 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    1 Maart 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 93
Kommentaar telling: 5

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 154 gaste aanlyn

Bydraes – Argief