Jongste aktiwiteit:

Legkaart

Wie weet, elke lewe is dalk, in wese, ‘n lewende legkaart. ‘n heilige Meesterstuk voortdurend in wording. Deurdrenk met lewenskrag, propvol belofte, en daagliks aan die groei. Ewigdurend besig om eerlik, soos ‘n spieël van openbaring, die oopvou van ons lewe aan ons te onthul. Nougeset elke sandkorrel te tel. Dit sekuur en akkuraat verreken, soos dit uit die uurglas van ons lewe val. Elke voetspoor agter ons, elke vingerdafdruk nagelaat, aan die lig te bring. Getrou en onafwendbaar in ons onkeerbare wedloop teen tyd. Miskien is elke lewenskaart reeds, van meet af, uitsonderlik voorberei en volledig toegerus. Insluitend elke lewensbrok benodig om die uiteindelike geheelbeeld akkuraat te vergestalt. Nougeset en volgens vooraf-bepaalde plan. Op presies die voorgeskrewe plek, die bepaalde dag en uur. As waarborg, dat elke moontlikheid regverdiglik ontgin mag word, is velerlei addisionele stukke, bes moontlik, vrygewig bygevoeg. Genadiglik bygereken as noodreserwe. Genoeg om elke, onverwagse hindernis, onmiddellik te kan transformeer tot toekomsbrug. As ons sou wou. Maar, skepties en van nature bang, ongewoond aan ekstra legkaartstukke, kan hierdie vrye gawe maklik deur ons misgekyk word. Voorkom, vir ons oningeligde oë, asof dit blank is en sonder nut. Oorbodig. Maar, wat as elke legkaartstuk, vroegtydig reeds, perfek geprogrammeer is om oombliklik te kan muteer, die oomblik as ons ons mensehande daarop lê. En Hy Sy lewenslig daaroor laat skyn. Wat as die aanvanklike begintotaal, eeue terug alreeds bereken is. Volledig uitgelê en in detail uitgemeet om perfek te pas in ons potensiële lewensplan. Elke detail daarvan geduldig en liefdevol geskaaf. Omvorm. Tot Uiteindelike goedgekeuring volgens Sy wil. En toe, finaal en onherroeplik, vasgelê as bloudruk in die anale van die ewigheid. Gereed om, op die bepaalde tyd, tot lewe gespreek te word deur Hom. In die hoop dat die kollektiewe eindwaarde, wanneer eendag weer deur Hom bereken, oneindig meer sal wees. Oneindig(?) groter as die som van die individuele dele waarmee Hy begin het. Met watter maat kan mens die liefde meet waarmee elke menselewe só volledig en volmaak voorberei word? Iedereen uniek en sonder gelyke. Nuutgeskape elke keer, sonder skroom, of terughouding. Perfek beplan om elke gedagte, woord en daad van ons gewensde lewensprent só perfek te mag verbeeld. Daarom dan, lê daar daagliks voor ons uiteplaas, oop en bloot, die legkaartstukke van ons lewe. ‘n Wye verskeidenheid om van te kies. Meeste stukke is welbekend en maklik om in plek te plaas, ander, voel nuut en vreemd onder ons onhandige vingers. Maar, die pad terug huistoe móét ons bou. Die treeklippe van ons lewenspad neerlê op die vaste Fondament. Sou ons instem om veilg binne binne die vasgestelde raam van ons lewenskaart te bly, is ons verseker van perfekte ontplooiing. Indien ons die afgemete grense van Sy toelaatbare beweegruimte vir ons begryp en eer, word ons dadelik, en mildelik beloon. Word ons uitgenooi om te deel, in die moeitelose ontsluiting, van die eindelose lewensbeloftes aan ons toegedeel. Bly ons binne die grense van die Kunstenaar se doek, lê die lewe vir ons oop en wyd. Om ons legkaart te help bou, verg inderdaad voortdurende meet-en-pas, maar genadiglik geen geweld nie. Hope geduld en moed is daagliks nodig, solank dit totaal gestroop is van enige eiewaarde, of mensekrag. Deurentyd mág ons, wanneer ons moeg raak, en moedeloos, vashou aan die goue koord. Die lewenslyn van ons geloof. Onbetwisbaar deurweef deur elke stukkie van ons lewensprent. Die lewenslyn waardeur twee harte, vir ewig, onherroeplik, aan mekaar verbind is. Aan die een kant ge-anker aan die Skepperrots. Onbeweeglik en ewig standvastig. Aan die ander kant, ek en jy Sy kinders. Vêr van die huis af, miskien, maar altyd binne sig. Vry om ons pad huistoe te vind. Somtyds eensaam, maar nooit alleen. Altyd vry om, kommerloos, te mag vlieg saam met Sy engele. Want, die Here weet, hoe hoër Sy kinders vlieg, hoe nader kom hulle aan Hom. Kan hulle dalk, as alles ontvou volgens Sy plan, dinge soos Hy sien. Deur Sy oë, die Groter prent van hulle lewenkaart aanskou. En Dan, dalk net, in ‘n rare oomblik van wedergeboorte, besef dat: Sonder hulle legkaartstukkie veilig in sy plek, Sy eie Skeppingsplan ook, vir eers, (en vir ewig, indien nodig…) onvoltooid sal bly. Totdat Hy, volgens Sy perfekte plan, en met vreugde in Sy Vaderhart: elke stukkie van Sy legkaart weer in plek verklaar.

Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed