Jongste aktiwiteit:

Liewe Dagboek

Liewe Dagboek,

Dis al weer net ek, Zoey. Ek het nooit besef hoe baie taal beteken nie. Nie net die taal waarin jy gebore is nie, maar ook die taal van die mense om jou. Rosina het my bewus gemaak van die belangrikheid van taal. Haar begrafnis gister het dit ook baie mooi uitgebeeld.

Rosina was my ouers se huishulp. Sy was langer deel van hierdie gesin, as wat ek is. Op ’n winderige oggend in 1996 het my ma die vaal papiertjie in die posbus voor die huis gekry. In ’n skewe handskrif en net so skewe Afrikaans, was Rosina se eerste woorde aan my ouers: “Help asamblief. Housekeeper soek werk. Betroubaar en hardworking.” My ma was toe net drie maande getroud en het pas in die nuwe huis ingetrek. Desperaat vir ’n paar hande wat die huishou werk ligter kon maak, het sy die nommer onderaan die boodskap geskakel en die Xhosa vrou van Nomzamo se soektog na werk was verby.

Vir my, was Rosina soos ’n tweede ma. Ek is die enigste kind en beide my ouers werk voltyds. Die laerskool is nie vêr van ons huis af nie en Rosina het my elke middag by die skoolhek ingewag en saam met my huistoe gestap. Tussendeur haar gewone huistakies het sy toebroodjies gemaak, pleisters geplak as ek met my fiets geval het en my leer hopscotch speel. Toe ek hoërskool toe gaan, was dit nie meer nodig dat Rosina my middae by die skoolhek inwag nie, maar sy was steeds daar vir my as ek by die huis kom. Sy het van speelmaat en opasser verander na ’n vriendin en goeie vertroueling. Ek het al my tiener probleme, liefdesdramas en skoolprobleme met haar gedeel. En Rosina het geluister. Dit is wat sy die heel beste kon doen. Rosina was goed in haar werk en my ouers het haar mooi betaal. Die huis was altyd spotless en sy kon kook, was en stryk. Sy was werklik my ma se regterhand, maar Rosina was ook my beste tjommie. Dit is iets waaroor my pa nie baie gelukkig was nie, want hy het in die ou jare grootgeword. Ek het nooit voor hom gepraat oor die dinge waaroor ek en Rosina gesels het nie, dit het hom net omgekrap.

Rosina het soos my ma ook net een kind gehad, ’n dogter. Die dogter het nooit skool klaargemaak nie. Sy het net een dag by die huis gekom met ’n baba, die kind by Rosina gelos en verdwyn. Rosina het die seuntjie Kaleb gedoop. Kaleb is so oud soos ek en Rosina het al baie oor hom gepraat. Ek en Kaleb het baie ingemeen. Hy hou ook van lees en skryf en as hy klaar is met skool wil hy ook soos ek tale gaan studeer. Ek weet nie wat hy met sy graad wil maak nie, maar ek dink ek wil ’n joernalis wees.
Rosina het al lankal begin spaar vir Kaleb se studiegelde. Sy sit elke jaar geld weg vir hom sodat hy die beste opleiding kan kry as hy klaar is met skool.

Rosina het in die afgelope twintig jaar wat sy by ons gewerk het, baie verbeter met haar Afrikaans. Aan die begin wou my ouers met haar in Engels kommunikeer, maar sy het doodeenvoudig geweier. Sy kon van die begin af Afrikaans goed verstaan, maar het gesukkel om dit dit te lees en skryf. Daarmee het ek haar gehelp. Soos ek grootgeword en die skooljare een na die ander voltooi het, het ek elke dag my taal lesse met Rosina gedeel. Sy was van my eerste graad-1 dag af geintereseerd in my huiswerk vir Afrikaans en Engels, maar veral Afrikaans. Ek weet nie hoekom nie, maar Rosina was mal oor ons taal. Dit het net nooit vir my sin gemaak nie, want sy was Xhosa en met die Apartheidera en al die onmin tussen Afrikaanssprekendes en die swartes destyds, was Rosina nog steeds vasberade om Afrikaans te leer. Ek het nooit gekla nie. Dit het my akademies ook baie gehelp om iemand anders te leer wat ek moet leer. Ek self hou mos ook baie van ons taal. Van Engels ook en ’n bietjie van Xhosa. Ja, Rosina het my ook haar taal leer praat. Ek kan Xhosa verstaan en lees, maar sukkel nog effens met die skryf.

Ek was die afgelope drie jaar op die skoolkoerant se redaksie, het aan eistedfods deelgeneem waar ek my eie gedigte voorgedra het. Ek het ook op sosiale media begin om my skryfwerk te oefen. Ek het by groepe soos Veerpen en Ink aangelsuit waar ek my gedigte en stories kon plaas. So weet Rosina ook van al die dinge waar ek by betrokke is en sy het gevra dat ek haar help sodat sy ook by die groepe kan aansluit. Rosina het ’n hele paar gedigte en stories geskryf en ingestuur. Sy was nogal goed daarmee. Vroeër die jaar het ek aan ’n radiodrama kompetisie deelgeneem. Rosina het ook ingeskryf. Dit was haar eerste keer, maar dit het vir my heel oraait gelyk.

So deur die jare het ek en Rosina mekaar se tale probeer bemeester. Sy is verlede jaar met longkanker gediagnoseer. Die uitslae het gekom op dieselfde dag as my sestiende verjaarsdag. Ons almal was teen die vloer. Rosina het probeer positief bly en haar lewe normaal probeer voort vat, maar sy het daarna nie weer iets geskryf nie, behalwe die radiodrama.
Vyf dae terug, ’n dag na Rosina se dood, kom die epos; Rosina het derde plek met die radiodrama gewen. Sy het ’n lekker bedraggie gewen en hulle gaan die drama uitsaai ook! Jissie ek is bly vir haar, al is my eie storie afgekeur. Ek is so trots op haar, maar dis hartseer dat sy nie nou hier is om haar prys te geniet nie. My ouers het die radio mense gekontak. Die geld gaan nog steeds na Rosina toe, maar my ma-hulle gaan reël dat dit ook by Kaleb se studiefonds gevoeg word. Hy is net so bly oor sy ouma se prestasie.

Vandag by die begrafnis was almal in trane. Rosina het eintlik twee begrafnisse gehad. Een vir haar Xhosa mense in Nomsamo en dan het my ma-hulle een vir haar gereël in ons kerk. Rosina was bekend in ons hele buurt en sy het al ’n keer of wat ons kerk ook bygewoon. Die dominee het mooi gepraat; oor mense wat ander mense probeer verstaan ten spyte van verskille. Pa het ook gepraat. Ek was baie verbaas, want al het hy en Ma baie waardering vir Rosina gehad, weet ek mos hoe hy oor haar en haar mense gevoel het. Pa het vertel oor hoe mens nie altyd die slegste eerste van ander moet dink nie. Jy moet jou naaste, ongeag hulle velkleur of taal ’n regverdige plekkie onder die son gun. Hy het gedink Rosina wou Afrikaans leer om die wittes by te kom, maar sy het Afrikaans geleer om ons beter te verstaan en om haar self in die groter wêreld beter te bemagtig. Mamma het baie gehuil en ek was ook hartseer. Ek weet nie waar ons weer iemand soos Rosina gaan kry nie, want vandag se huishulpe is net nie soos Rosina was nie.

Dit was nie net vir haar ’n werk nie, dit was haar lewe. Rosina het actually belang gestel in die mense om haar en die taal wat hulle praat. Rosina het moeiete gedoen om haar medemens te verstaan. Ek hoop net ek kan dit ook eendag regkry.

Dis al vir nou, Dagboek.
Tot later, totsiens.
Zoey




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed