My dagboek oor jou (3) …
Ek was vir ‘n paar dae see toe. Nie ‘n somer-see nie, maar ‘n winter-see. Jy wonder seker wat die verskil is. Is die see dan nie maar net altyd dieselfde nie? Nee, beslis nie. Maar dis ‘n hoofstuk vir ‘n ander keer … die see se verskille.
‘n Somer-see gaan gepaard met vakansie en goudgeel sonstrale wat op lywe bak. Dis sand-tussen-die-tone en jou hare wat krulle maak van die seesproei. Dis groot sonhoede en deur-die-tone-plakkies. Dis sand tussen jou tone en roomys op die strand. Kaalvoet en kortbroek tyd. Loom aande terwyl die ondergaande son die horison geel en oranje en pienk maak.
Winter-see is iets heeltemal anders. Winter-see is meer besadig. Terwyl ek daar was, het ek elke dag see toe gegaan. My mus op my kop gesit en my warmste baadjie aangetrek. Jou ma het laas winter vir my daardie mus gehekel, onthou jy? As ek by die deur uitstap kom vat die koue vinnig my hand sodat ek nie alleen hoef te stap nie. Yswolkies kom met elke asemhaling uit my mond net om te wys dat binne in my nog steeds ‘n hart warm klop, selfs al is jy nie hier nie. My gedagtes dwaal weer as ek my hande diep in die baadjie se sakke druk. Ek glimlag as ek onthou hoe jy altyd gesê het net iemand met soutwater in hulle are kan oor die see voel soos ek doen. En hoe ek jou altyd probeer oortuig het dat die see ‘n wonderlike plek is om te wees. Jy het altyd gesê jy kom nie by die see nie, want die sand sit orals vas. En dan paai ek jou maar weer en sê ek sal die sand vir jou afskud.
Ek skrik uit my gedagtewêreld as ‘n vragmotor skielik met groot lawaai verby my ry. Ek het sowaar tot by die strand gestap. Ek gaan sit vir ‘n oomblik op die bankie daar naby en kyk hoe die son sy kop skaam oor die horison steek. Die kleure is so mooi dat geen skildery of foto dit ooit werklik kan namaak nie. ‘n Genadegawe van Bo. Perfek.
Na ‘n rukkie stap ek af strand toe. Dis koud en die water lyk sommer ysig. Maar ek bly op die harde sand. Daar is ‘n magdom beweging. Almal skarrel seker ook om by die “werk” te kom. Skulpdiertjies soek kos vir hulle kinders en seevoëls vlieg in draaie om te kyk waar ‘n visserman van laasnag dalk ‘n stukkie aas laat val het. Daar anderkant hardloop ‘n wit labrador. Hy speel uitgelate in die water. Ek wonder of hy nie koud kry nie.
Die golwe rol weer en weer. Elke brander breek in duisend stukkies op die strand. Op die een of ander manier raak hulle weer heel as hulle terugtrek. Net om weer deur die volgende golf op die strand uitgespoeg te word. As ek ver oor die groot oseaan kyk, weet ek daar is niks wat ‘n onstuimige gemoed kalmeer soos ‘n onstuimige see nie.
Ek mis jou en met elke brander wat breek, wens ek jy was nou hier by my.
Al my liefde
Xxx
2 Kommentare
-
Anze
Hierdie dagboek van jou gaan nog n treffer word! Ek hoop jy gaan dit oorweeg om in boekvorm uit te gee.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Ek geniet jou dag boek baie