My magneet
My yskasdeur het ‘n magneet
wat my hart se wenslys hou:
Hy is geen koning,
selfs geen prins,
geen superman, batman,
geen hunk of plank.
Hy’s ‘n alledaagse man
wat ‘n gewone vrou
kan beskerm en verhef
tot sy byna-prinses, lief,
(net nie bokkie-baby-dief)
wat hy vir hom wil hou
selfs op dae as hy my pes
en ek hom wil vermoor
oor ons te bang is
ons gaan mekaar verloor.
Maar die soort ding moet min gebeur,
want ons het albei al ons les geleer
en is moeg vir drama,
verwyte, spite en karma.
Hy sien eers die binne-my
voor sy oë oor die res sal gly,
maar hy kan maar dalkies noem
as ek vir hom tog net
nog so ‘n bietjie mooi ook bly.
Ons oë kan skakel, ver,
en selfs in die nag,
as ons ons moet beteuel
oor sensoriese lus
of ‘n stoute lag,
skalks woorde,
so skelmpies gedeel.
Hy kan my wild ronddraai,
maar baie saggies weer neerlê,
terwyl hy regtig luister
na wat my lewe sê,
om my dan as regte mens
van kop tot tone lief te hê.
Hy sal my stukkies heel kan gom
totdat ek eindelik weer sal blom,
dalk net so goed kan wees vir hom
en sy sakke seer besweer.
Dit is dan my lysie
aan ‘n Sneeuwitjiemagneet gebind
wat dit oor ‘n prins wil hê
wat eendag oor my pad mag kom.
Ek weet reeds als van hom,
nou moet hy vir my óók
tog net nog kan vind!
© Charleine Collins 19 Januarie 2019
(oorspronklik 5 Maart 2015)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.