‘n Soort afskeid
Die laaste oggend is ‘n hemel
wat kleur bo berg en velde kry
wyl skadu’s nog in klowe
en – kol-kol –
tussen struik en pol gedy.
Dis soet warm koffie
en karringmelkbeskuit
ysige vingers en palms
wat – bakhand –
om ‘n beker sluit.
Dis ‘n blou kombers
op koue banksement
en die breek van die dag
wat – kraakdelikaat –
die nag se donker versend.
Die laaste oggend is ‘n horison
wat ver en wyd en diep bekoor.
Dis môrevroeg se witkoluil
wat oor en oor haar roep laat hoor.
Dis doringtak en sekelbos
wat haak en steek en nimmer los.
Dis ‘n boklam en ‘n tarentaal.
En oor die boonste kruin –
‘n sonnestraal.
Dis ‘n arend aan die woud se soom
en jakkalstjank
langs ‘n huil(maar)boom.
Dis ‘n afskeidstree . . .
en ‘n lang, lang skaduwee.
C. Shaw
4 Augustus 2016
3 Kommentare
-
Kiekies
Ek is sommer hartseer dat daar hoegenaamd afskeid nodig was. Ek het my weer so lekker ingeleef! Pragtig man!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Mariska Smit
Nostalgie....mooi verwoord