Jongste aktiwiteit:

‘n Wit stoel met ‘n uitsig (‘n brief aan Shirley van England)

Beste Shirley

Ek sit vandag hier op ‘n wit stoel
by ‘n tafel met goue eetgerei.
Dis ‘n warm sonskynmiddag
aan die einde van April.

Glo dit as jy wil,
maar ek sit nou langs die see
op ‘n plek waar net die rykstes
van die rykes woon –
met blykbaar net sjampanje
en vonkelwater om te drink.
(Hoe begeer ek tog ‘n reuse glas vol ys
en appelsap geskink.)

Hier is baie mense –
mooi van aangesig en lyf.
Almal lag . . .
en iemand trou.

Ek dink aan jou
‘wyl my gedagtes kaalvoet vlug
oor klippe en blink water –
tot dáár waar eilandrotse troon.
Ek soek ‘n bietjie stilte
om te skryf.

Aanstons sal die skemer daal.
Die wind sal opsteek
om koel en klam te waai.
Die ebgety sal omkeer –
en branders sal inspoel by die baai.
Die hemel sal tot nagblou kleur.
Die horison soos vuur skakeer.

*

Ek wonder nou
oor tye lank gelede,
verbeel my dat ‘n Khoivrou
– nét hier –
langs dieselfde waters sit.
Was sy ook so verwonderd
oor dit als?
Kon sý die teerheid van die skemerson
teen harde klip beskryf
of hoe lig (wat broos is)
in die donkerte van water dryf.

*

Shirley
hierdie herfsdag is ‘n newel
– soos mis –
wat wasig tussen klip
en oewerrotse hang.

En ek is seker jy verlang soms
om by ‘n Kaapse kus te sit.

Ek neem foto’s met my selfoon
en stuur vir jou ‘n paar –

en groete
vanaf Bakoven se klipstrand
neffens Kampsbaai in die Kaap
aan die westekant van
– ook eens jou –
Suid-Afrika.

© Carma Shaw
29 April 2017

Ns.
Shirley, ek wil jou tog iets vra.
Dink jy daar sal eendag
– millennia van nou –
wéér ‘n vrou
nét hier
op dieselfde plek kom sit.

En sal sý dan ook so wonder
oor die wonder . . .
van dit als?




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

6 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed