Jongste aktiwiteit:

Nag se merries

my slaap is wakker verwildering
dol drome dwelm soos dronkeling

nes rekenaargegenereerde beelde
pronk ʼn sentourwese uit mitologie
in steekse basterrealiteit van drome
steeds onverklaarbaar in oneirologie

mý hibriede verwronge chimera
halfmens
halfperd
gevleuel
skep sidderspelsinestesie
tussen sintuiglike werklikheid
en onuitgelegde fantasie

sonder stang
of toom
of teuel
v l i e g
die malheid van my nagmerrie

godiva-naak en bloots godin wat droom opsaal
ry sy my R.E.M. in beeld vervolgverhaal

nagsweet is wit salpeter
kardiogram klop wilde galop
spring oor hindernissinapses
dié nagruiter in my kop

my rus ʼn banneling
my sinne ʼn vreemdeling

mal merries aangevuur
absurde drama van naguur

dol drome dwelm soos dronkeling
my slaap is wakker verwildering

Etna Wepener ©️

Verklaring van woorde:

Sentourwesens is wesens wat halfmens, halfdier is.

Chimera is ‘n mitiese figuur gekenmerk deur ‘n hibriede voorkoms van twee of meer diere.

Oneirologie (van die Griekse ὄνειρον oneiron, “droom”; en -λογία -logia, “die studie van”) is die wetenskaplike bestudering van drome.

Godiva verwys na Lady Godiva wat uit protes naak op haar perd gery het.

R.E.M. is die vierde fase van slaap waartydens ‘n mens droom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed