Jongste aktiwiteit:

Onsigbare koord van liefde

My oë dop byna om toe ek na twee skrale maande weer een van my liefling pleeg-honde sien. (Dit is nou een van daardie diere vir wie ek kos en liefde aandra terwyl sy Oubaas en Miesies elders rinkink.)

Die dierasie se gesig is omtrent heeltemal spierwit grys en opmerklik baie witter as wat hy net nou die dag was. En dit neem hom so lank om op te staan, dat ek net-net uit my stoel wil spring en hand bysit. Sy eens oorvloedige middeltjie lyk ook al hoe skraler. Die arme dier is duidelik in pyn en my trane loop na die binnekant van my hart toe. Oubaas sê dat Woef verseker “op pad uit is want hy is immers al nege jaar oud.” Miesies knik instemmende saam want die laaste dae staan hy net op vir ʼn maaltyd en verder slaap hy. In daardie geval slaap die arme dier ten minste 23uur aaneen. Kan dit waar wees?

Die situasie klink al hoe slegter.

My kop maak ook maar ʼn op-en-af beweging, maar my hart wil nie dieselfde taal gesels nie. Hy wil nou maar net nie daarvan hoor dat Woef handjies met die doodsengel vashou nie. Guppy het ook al vroeg in die jaar haar tiende verjaardag gevier. Tog, iewers moes sy dan seker ‘n slukkie water uit die fontein van ewige jeug gekry het, want daar is absoluut geen vergelyking tussen haar energieke gedrag en dit wat ek nou hier voor my sien nie. Sy is ook ouer en meer bedaard, maar baie beslis nog nie aan die doodgaan nie.

En ek is bekommerd! Sê-nou-net hierdie Woef gaan dood terwyl Miesies met haar tone in die sand speel? Wat gaan ek met die oorblyfsels van so ʼn tamaaie dier maak? Ek dink nie dit sal gewaardeer word indien ek hom laat veras nie en sal dalk self vir die rekening moet sak skud. Hy gaan verseker ook nie in óns vrieskas rus nie. Oh, GRIL! En die vrieskas in Miesies se huis is byna lagwekkend te klein vir daardie bonkige lyf. In my gedagtes probeer ek my fisiese krag meet, maar dit word gou te lig gevind. Dit sal ʼn groot gat moet wees en my spiertjies is lankal nie meer in staat om ʼn graaf in die grond te druk nie. Hubby mag dalk nie vreeslik opgewonde raak as hy hoor hy moet vir ‘n vreemdeling n graf grawe nie, want ek dink mos altoos vir hom werk uit!

Maar ek word gepaai met ʼn “toemaar, hy sal nie in die volgende week of twee doodgaan nie”. Goed, ek het seker geen ander keuse as om op hul woorde te vertrou nie, maar ek weet darem nie. Hierdie dier het meer as net bietjie genade en liefde nodig – iets soos báie pyn medikasie om sy laaste dae meer draaglik te maak. Ek neem my voor om te sorg dat hy die grootste en die beste vorm van liefde kan kry wat ek kan uitdeel want dit lyk asof ons twee se kuiers op hierdie aarde binnekort iets van die verlede sal wees. Mensig, hoekom gaan die diere waarvoor mens so lief word dood?

Iewers terwyl Miesies tee maak, duik en onder die kombuistafel in en kry ek en Woef ‘n kansie om te gesels. Met groot teerheid hou ek sy stywe agterbeen in die een hand terwyl ek saggies met die ander daaroor vryf. Met aandag luister hy toe ek sê dat ek kan sien dit is baie seer en ek is so jammer daaroor. Maar, ons twee gaan vir die volgende paar dae (weke eintlik) weer lekker saam kuier en ek sal baie mooi na hom kyk tesame met die belofte van ‘n daaglikse porsie lewerkoekies. Met ʼn luide sug sak hy weer terug op die teëlvloer en snork lustig voort. Sý probleem is oënskynlik opgelos.

ʼn Skrale drie dae later ry ek met ʼn swaar hart om vir Woef en sy maatjie kos te gee. En om eerlik te wees, ek is tot die dood toe bang dat daar net een blondine by die hek sal waghou. Vir die hoeveelste keer verwens ek myself dat ek so geheg aan ander mense se troeteldiere kan raak want elkeen van hulle word ʼn hart-kind. Guppy het al opgehou kla wanneer ek na ʼn uitstappie ruik asof ek ander skelm verhoudings aanknoop. Sy weet ek loop rond, maar kom darem ook altyd terug na my eerste liefde toe.

Die hartseer word my tydelik gespaar wanneer daar twee nat neuse deur die opening in die hek druk! En natuurlik, wonder-bo-wonder makeer Woef absoluut niks! Hy is vrolik en van ʼn stywe rumatiek been is daar geen sprake nie. Buiten vir die grysheid oor sy gesig, is hy so laf soos ʼn baba. Hy jaag die bal en bring dit terug vir nog ʼn rondte oefening. Hy eet asof sy lewe daarvan afhang en verder staar ons liefdevol in mekaar se oë. Ek wonder of hy nie soms moeg word om so intens na my te staar nie? Knip hy darem so nou en dan sy oë? En daardie glimlag strek natuurlik van oor tot oor!

Dit is geen nuus dat die brein een allemintige sterk en magiese orgaan is nie. Soos jy dink, so sal jy wees. En wat jy van ander glo, so sal hulle ook word. Teen die tyd wat die derde persoon vir jou vra of jy sleg voel, begin mens rêrig wonder of jy nie dalk siek is maar nog nie daarvan weet nie. Dan begin jou handjies bewe en die naarheid laat die bloed uit jou gesig dreineer. Dit moet dan seker ook vir diere geld? Die eienaars GLO dat Woef reeds op die drumpel van die dood lê, en ek stem heelhartig saam wanneer dit lyk asof hy op vier gladde piesangskille, hygend na asem sit-lê. Erger nog, hulle praat daarvan waar hy hulle kan hoor (nou nie asof ʼn dier nodig het om iets in klank te hoor nie want ʼn mens se gedagtes is verseker nie verborge vir ander nie). Dalk het Woef dit ernstig begin opneem?

Maar met net ʼn dag of twee se bietjie liefde en aandag makeer Woef nou absoluut niks. Nie ʼn enkele keer het ek vir hom gesê dat hy is besig om dood te gaan nie, net dat hy mooi versorg gaan word. ʼn Bietjie simpatie maak uiteindelik ʼn reuse verskil. Dit is net daardie klein erkenning van ‘ek sien jou’. En ek sien hom en die res van die wereld rêrig! En is ek dan nou ook nie al die laaste dekade Guppy se pyn-monitor nie? Dit is net daardie innerlike gevoel van ‘weet’ waar die eina lê wat die wêreld se verskil kan maak.

As ʼn oënskynlike eenvoudige dier so ʼn drastiese en byna oombliklike verandering kon ondergaan, hoeveel groter is die invloed van ons woorde en gedrag nie op mense nie? ʼn Ander voldoen gou-gou aan sy vriende of familie se verwagtinge. Jou woorde kan dus bemoedigend, aansporend of afbrekend wees. My mentor se mantra is “kindness matters”.

Soos jy dink, so word jy, nè? Woef voldoen dus ook aan sy mense se verwagtinge. Oubaas en Miesies spreek die dood oor hom uit en hy lê hygend en wag vir sy laaste asemteug. Is sy mense dalk onbewustelik sleg vir sy gesondheid? In hierdie geleende dae mag ek maar so bietjie met Woef se kop smokkel. Hoe gaan ek nou vir sy mense sê dat hy op nege jaar steeds ʼn lawwe baba hond is en dat dit hulle denkwyse is wat hom so siek maak? Is dit ooit my plek om hulle daarop te wys?

Net om iets uit te klaar, ek is nie Dr. Doolittle nie, hoor nie mens-woorde uit diere se bekke nie (al is hul geselsies hulle baie meer intelligent as mense sʼn). Maar ek kan lyftaal lees, en lyftaal het sy eiesoortige klank. Diere vertel nie leuens nie, leef in die oomblik waaraan hulle hulself bevind, raak nie bekommerd oor waar die volgende maaltyd vandaan sal kom nie en hou ook nie aan ou griewe vas nie. Maar dat hulle misverstaan word, is ʼn feit soos ʼn groot bont koei!




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed