Jongste aktiwiteit:

Oudagspore

As die wolf sy hartseer note
oor die volmaanheuwels huil
en die kleinvolk van die velde
onder bosveldbome skuil

vat my hart die oudagspore
in herinnerings se sand,
en dra my t’rug oor al die jare
na ‘n ou vergete land,

‘n land van sonskyn dae
en aande langs die vuur,
van lywe saamgestrengel
in die middernag se uur…

van paadjies saam gewandel
in die vroeë more dou
as die wêreld mistig sluimer’nd
in die eerste lig ontvou…

dan word dit vreugdenote
wat die simfonie kom speel
toe jy, die engel sonder vlerke
my hart vir jou kom steel…

As die wolf sy hartseer note
oor die volmaanheuwels huil
dan word jóú hart die vesting
waar my liefde veilig skuil

© Anton Bosch 19/02/2019




1 Kommentaar

  • See-Jay-El

    Die wolf se huil verklap 'n soort hartseer oor die oudagspore, waar die skrywer hom op die huidiglike oomblik, in die hede bevind. Dit wek herinneringe op van 'n tyd geken aan sonskyndae, iets sorgeloos en vry, van warm nanagvure, waar gedeel is inliefhê en saamwees. Dis herinneringe van paadjies wat saam gewandel is en gedeel is met iemand uit die skrywer se verlede, of miskien 'n droom oor wat dalk kon gewees het met sy engel sonder vlerke. Dis beelde wat vars in die geheue van die skrywer lê, maar ver in sy verlede is. Maar in die voorlaaste strofe word die hartseer terugkyk en onthou 'n vreugdevolle ervaring. Die vertelling skuif oor vanaf die onthou van die verlede na die hede. Daar is 'n engel sonder vlerke wat hierdie blydskap verwek, want sy het sy hart kom steel. Al klink die wolf se hartseer oor die heuwels van sy hede, het sy liefde 'n veilige rusplekkie in haar hart gevind. Met die uitsondering van die ellips, wat die leser toelaat om sy eie gedagtes verder te laat gaan, word weinig leestekekens gebruik, maar let op die sterk klem van"jóú hart." Dis duidelik dat die skrywer hier met 'n spesifieke persoon gesels en amper angstig is dat die persoon dit moet raaksien en moet weet. Die gebroke rym wat deurgans in die gedig gebruik word, is sagte weerspieëling van die skrywer se heimweë. Iets wat opmerklik is, is die omarmde rym wat in die tweede en vierde reëls van elke strofe gebruik word. Dit wil voorkom of die digter spesifieke gedagtes wil benadruk, soos die "volmaanheuwels huil" maar onder die "bosveldbome kan jy skuil" en die simfonie speel, want die engel sonder vlerke het sy hart vir haarself kom steel." Die omarmde rym verklap ook 'n fisiese omhelsing wat die gebrokenheid van die oudag se herinneringe vertroos. Die wolf met sy slu omkanttrap vang die skrywer met 'n tikkie verlang aan die begin, maar dan word die wolf omkant gevang deur die skrywerb want sy vlerklose engel se hart bewaar sy liefde en die verlangwolf se huil is onskadelik. Tergend die vraag wie is die vlerklose engel? Hoekom is dit belangrik dat sy sonder vlerke moet wees? Is dit dalk omdat hy weet sy is net 'n mens met foute en tog het sy soveel mooi, engelmooiheid in haar, Dalk moet sy vlerkloos wees, sodat sy nie van hom kan wegvlieg, maar waarom sal sy van hom wou wegvlieg as sy sy hart vir haarself kom steel het? Dis 'n sprokiestorie met so 'n kinkel van 'n wolf wat jou die skrik op die lyf wil kom jaag. Dis 'n lekker weer-lees gedig wat jou laat wonder en elke keer iets anders laat ontdek. Puik Anton!

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed