
Reënleser (Goud)
vandag die leser weer gesien
in die laat middag
teen uitspantyd
toe die rooi son glim
en die skemer daal
het hy vir hom ‘n wolkboek
uit die hemelrak kom haal
in ‘n warrelwind het hy gekom
hy’t die dunner skrifte weggedruk
en ‘n dik boek beetgekry
hom oopgeruk tot by hoofstuk een
en die voorwoord
met ‘n slag vermy
met donderstem het hy gelees
tot die aarde en die hemel beef
sy oë het aan die brand gebly
en in die weerkaats van sy glinstering
het die hoofkarakter manalleen
met sy blitsperd deur ‘n wolk gery
deur sy stem teen eggo kranse
het die byspelers met lus gedans
die fakkels in hul hande
het die hemele verlig
tot net die skadu’s van hul name
in die donker agterbly
hy’t stuk vir stuk die boek gelees
en dit uiteindelik toegeslaan
vir ‘n wyle het hy diep gesug
en toe met rukke begin huil
en in die aftog van die hemelspel
sy diepe droef en trane
vir moedverloor en hoop verruil
Andries Fourie
04.01.2021
(sinoniem/neologisme vir drama: hemelspel)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek