Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Resensie: Die film, Ek en Kaminski

Deur Toom
Datum gepubliseer: 6 April 2016 Aantal woorde: 788 967 Kere gelees 13

MET DERTIG is jong mense wat pas ‘n universiteitsgraad ontvang het gewoonlik trots op hul prestasie en dikwels eersugtig. Sommige ly onder selfoorskatting. Menige, nie alle nie, word bekrompe, arrogant, skrupelloos in hul poging om na bo te streef. Mense kan, soos hulle oud word, al hoe milder word, kan ‘n seënsryke uitwerking op hulle omgewing uitoefen. Of hulle kan ook met verloop van tyd netso kleingeestig en selfsugtig word. Nie almal nie, sommige. Wat gebeur wanneer twee sulke uitgesonderte persoonlikhede opmekaar tref? Hoe sou dit lyk as ‘n jong joernalis wat op kunskritiek spesialiseer ‘n boek oor ‘n nors ou half-vergete kunsskilder wil skryf?

[Ich und Kaminski, Duitsland 2015 – Regie: Wolfgang Becker. Draaiboek: Thomas Wendrich, Wolfgang Becker, na die roman van Daniel Kehlmann. Kamera: Jürgen Jürges. Met: Daniel Brühl, Jesper Christensen, Geraldine Chaplin, Amira Casar. „X Filme”, 123 minute, vanaf 6 jare(!).]

Sebastian Zöllner [Brühl] het allerhand verskillende goeters geskryf, maar nog nie die „groot kans” getref nie, en nou wil hy regtig loslê: Hy skryf die lewensverhaal van Manuel Kaminski [Christensen] wat Picasso en Matisse geken het; oor hom met sy karakteristiese donkerbril, hy wat beroemd geword het ná ‘n pop-art-tentoonstelling in New York met die opsienbare titel „Painted by a blind man”. Sy huiswerk het hy al gedoen, het met tydgenote  vriende en vyande  gepraat, met versamelaars, kritici en galeriste, het boeke oor die man en sy kuns gelees. En heelwat alreeds neergeskryf. Nou wil hy ‘n eksklusiewe onderhoud met hom voer om sy werk af te rond, veral omdat hy geregverdigde twyfel aan sy „blindheid” het. Hy moet gou maak want die man is reeds baie oud en word nie jonger nie en die biografie moet klaar wees voordat hy sterf.
Intussen woon Kaminski hoog in die Alpe, afgeskerm van die res van die wêreld. Zöllner verskyn toe sonder aanmelding by sy Chalet. As eerste moet hy aan die ou man se dogter [Casar] verbykom. Miriam se taak is om vir hom te sorg en om te kontrolleer wat in sy omgewing aangaan, dat niemand hom te na kom nie. Hy koop die huishoudster om en kan tot Kaminski deurdring en hom ontvoer. Hulle ry na België om sy groot „Liefde en Muse” van destyds [Chaplin] te besoek. Op pad leer die twee mekaar ken. Dit veroorsaak glad geen nuwe vriendskap nie maar bevestig die twee se afneiging vir mekaar. Daarby leer elkeen iets oor homself van die ander  ‘n soort bespiegeling, gepaard met selfkastyding. Die twee, die oue en die jonge, word op die ou end met hulle lewensleuens gekonfronteer.

In ‘n storie  enige verhaal  is daar twee opponente, die held en die antiheld of booswig; twee standpunte moet verdedig word, en óf die Goeie, óf die Bose moet wen. Maar wat maak ons as daar slegs twee „boses” is? Altwee is aaklige persoonlikhede, altwee soek slegs die beste vir homself uit, altwee verafsku mekaar. Daartoe haat Kaminski die pop-art, en sy biograaf haat dit om sulke snert oor sulke onaangename mense te moet skryf.
Normaalweg is daar ‘n ligpunt: Ons kan dink aan ‘n flirtasie met die jong huis­houdster, of dat Kaminski en sy ou liefde tot ‘n versoening kom… Selfs die vrouens toon geen sagte kant nie. Die dogter, Miriam, eers reg nie.
Die toehoorder (hier, die toeskouer) vereenselwig hom meestens met die een of ander karakter en „voel met” of „ly saam met” hom of haar. Slegs, daar is niemand met wie jy jou wil identifiseer nie.

In 2003 verskyn die roman „Kaminski und ich” deur Daniel Kehlmann (‘n slim, klein, gemene verhaal het iemand dit genoem) met die verhaal van Sebastian Zöllner wat roem wil verwerf en ‘n aanstelling by ‘n koerant wil bewerkstellig deur die „kleingeestige, onnosele, bekrompe” redakteure te oortuig dat die biografie ‘n wêreld-bestseller gaan word. Daarvan is hý oortuig. In die roman is geen held nie, slegs ‘n handvol anti-helde.

Dis nie ‘n treurige verhaal in die sin van, „Ag, shame, dis so sad.” nie. Dis eerder treurig insover as dit daarstel hoe die opgeboude frustrasie van jare en dekades en die lewens­leuens wat ontstaan het mense se hele persoonlikheid kan verderf, verbuig. Daar ís ‘n „storie” daarin, mens gaan nie leeg uit nie, maar dis nie noodwendig elkeman se kos nie. Ek hou byvoorbeeld nie van skop-skiet-en-donder nie. So is ons almal verskillend.
Weereens beleef ons daardie grensoorskrydende samewerking van europese kuns: Jesper Christianson is sover ek weet Deens, Geraldine Chaplin ‘n Engelse, Amira Casar is Frans of Spaans; buitetonele is in Switserland asook België opgeneem. ‘n Duitse film, ewe. Goed gespeel, goed gefilm en daarvoor ‘n hoëre puntetelling, maar die tema druk bietjie swaar op die maag.
Drie sterre.
©.2016……………………………………………..c]:o(٤.***.(o;╞………………………………………………………tje




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    19 April 2016

    heerlik gelees, dankie Toom

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 210
Kommentaar telling: 209

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 178 gaste aanlyn

Bydraes – Argief