Jongste aktiwiteit:

Rose pienk en Jakarandas pers

Rose pienk en jakarandas pers,
ek sing vir jou ‘n bloublomvers
van laventelbos en roosmaryn,
van lelies geel soos die son se skyn.

Malvas bloei in die bloedste rooi.
Dis die swartoognooi wat flikkers gooi –
oor die heiningdraad rank haar ranke groen
sy kleur haar blomme in ryp lemoen.

Die muurblom wat so eenkant staan
het weer vandag haar bont rok aan.
Sy’s ‘n regte juffrou sorgeloos
in perske, lila en pruimframboos.

Suikerkan en kanferfoelie tuit –
vir jou speel ek op ‘n towerfluit
tussen steenboksriet en wildeals,
waar winde sag oor die fynbos wals.

Vergeet-my-niet lag van oor tot oor,
sy’t haar hart verpand aan ridderspoor.
Aanstons staan hul dalk op trou –
O’ as die liefde net sy geur behou.

Vlindervlerk wieg die grasklokkies.
Ballerinas dra hul se dansrokkies.
Sowaar’s wat tolbos teen die rante speel,
die vingerhoed het ‘n purper keel.

Bessie blou en katjiepiering wit.
Ek’t jou lief, my lief – nou weet jy dit,
sê papierblom vir die aronskelk
na sewejaar van nog nooitverwelk.

Pluime gras en ‘n blom van was,
ek vleg jou in my lintbos vas
voor die aandblom in die lig verdwyn
en dou verdamp uit die kelkiewyn.

Rose pienk en jakarandas pers.
Ek viool vir jou ‘n bloublomvers
van laventebos en roosmaryn,
van lelies geel soos die son se skyn.

© C. Shaw
9 November 2015




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

6 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak