Stil my hunkering
As laaste goud van die dag
oor vlaktes van my hart kom nestel
en tarentale se skel gesange
droewige verlange in my hart aanwakker
kyk ek op na daar waar sekelmaan
trots sy kop bo hemelliggame kom hang
en vlonkerende sterre in die hemelruim
speels vir my knipoog vir my glinsterende trane
dan stuur ek vir jul ’n miljoen stywe drukkies
op aandwind se darteldans
en blaas veerligte soentjies
vir eergister lippe vêr-vêr vandaan
my hart skryn dan van verlange
wil dit uitsnik in hartverskeurde pyn
hunker na vergange geliefdes
wat in stof nou voortbestaan
wees stil my hartverskeurde verdriet
luister na fluister van natuur
want daarin alleen kan ek die wonder
van God se almagtige hand sien
en die besef stil hunkering van aanstons
wete dat dood ons nie kan skei
en na stortvloed tranereën
verskyn daar ’n helder reënboog in my hart.
© Taai Bonthuys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.