
Vir jou skryf ek ’n veldblomvers
Vir jóú skryf ek ’n veldblomvers
al sou rose pienk en jakarandas pers
– ék skryf vir jou ’n veldblomvers
van aalwyn wat voor ’n krans lemoen
nes dit elke jaar in die Boland doen
kyk, die suikerkan speld heldergeel
naas mimetesblad
wat met die rooi kleur speel;
langs ’n restio, teen die berg se hang
– daar bloos ’n plakkie
bo haar vaal blaarwang
en die skilpadbessies
wat by Darling groei
sal tog elke lente weer in lila bloei;
pluime gras sal in die weswind roer,
roomwit kelke – oor ’n vlak kontoer
lobelia is maar delikaat gebou
nogtans sal sy
al teen die rotsrant hou
en tussen erika en steenboksriet
haar blouheid oor die landskap giet
selfs Kannaland versaak die vaal –
karoogoud* het haar kleur gaan haal
en sy wat eens soos droëhout was
het nou ’n sonrok om haar lyf gepas
Lachenalia sal blom in sand neffens klip
– in die barste grond, oor dor terreine glip
so, laat rose maar pienk en jakarandas pers
vir jóú, my lief, skryf ek ’n veldblomvers
© Carma Shaw
10 Oktober 2018
1:52
* karoogoud – Rhigozum obovatum (geelberggranaat)
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Eduard Smith
Ek was nog altyd versot op jou werk. Lieflik om weer ietsie daarvan te lese te kry. Ek is so bitter min aktief op die skryfblaaie en kyk nou wat mis ek. Jy omskryf alles so mooi...ek wil sommer ry en gaan blomme kyk - helaas te laat. Pragtig Carma.