Jongste aktiwiteit:

Vryheid en Pixie Sprinkels

(Stergradering : Silwer. Woordtal : 2440)

Gaan die Amerikaners ooit voel dat hulle nie meer ʼn “knie op die keel” het nie? Moontlik nie. Gaan ons eie 16-Junie-Vryheidsdag-opstandiges se nageslag ooit werklike vryheid beleef? Heel waarskynlik nie. Want, jy kan nie vryheid beleef totdat jy nie besef dat vryheid ʼn lewensingesteldheid is nie, en die oënskynlike gebrek daaraan nie iemand anders se skuld is nie. Selfs nie eens die lewe self nie. Dus, niemand kan jou so ingeperk hou soos jou eie denke nie.

Dit is nogal interessant om te sien hoe elkeen glo hy of sy is vry – totdat jy die kettings van die samelewing, van die werk, die kerk, die skool of ouerlike opvoeding begin raaksien. Stilweg word jy cliché ‘s gevoer, besprinkel met pixie dust om jou saggies gesus of selfs bewusteloos te hou. Dalk uit onkunde gebore, sal min jou aanmoedig om die groot, ongeskrewe reëls van die lewe te bevraagteken. Dit lyk egter asof die Millennials dit al makliker regkry, maar sou jy dit waag om bokant die kante van die vierkantige boksie te loer en vreemd-klinkende vrae te vra, word jy gou gebrandmerk as ʼn rebel of moeilikheidmaker – en dit word selde as ʼn kompliment bedoel. Hierdie reëls wat saam met moedersmelk ingegee word, is niks anders as die oorvereenvoudiging van die werklikheid nie.

ʼn Klompie vriendinne se nimmereindigende geweeklaag oor toe restaurante en die afhanklikheid van bediendes en haarkappers was genoeg om my kop teen die muur tot pappery te laat stamp. Hul gemor oor die gebrek aan vrye beweging was hoogs frustrerend en ek het eers besef hoe klein (en vry) my eie wêreld is toe baie min gedurende hierdie handvol weke van gedwonge inperking verander het. Ek het daai wêreldjie van alle hoeke bekyk, soms met verwondering, soms met simpatie. Uiteindelik sou ek tot die slotsom kom dat niemand so ingeperk is soos die een wat van ʼn ander afhanklik is nie, en daarmee saam ook die wete dat vrees n groot steler van vryheid is. Die tralies mag onsigbaar wees, maar dis verseker nie minder effektief nie en om vrees aan te wakker is so maklik soos 1-2-3. Ons sê net “boe” op facebook en die helfte van jou onsigbare vriende se ledemate gaan onbeheerst aan’t ratel. Hul koop toiletpapier in oormaat en sit met styf-starende oë en luister na elke brokkie slegte nuus wat op elke denkbare medium verkondig word.

Dan is dit nou maar ook so dat ons elkeen grootgemaak word met ʼn stel ongeskrewe reëls. En natuurlik bou die media en samelewing lustig daarop voort!

As jy hard werk, sal jy beloon word. Dit is nie altyd waar nie en slim werk is beter as hard werk.

Goeie goed gebeur met goeie mense. Tot daardie dag wat jy agterkom dat die lewe nie diskrimineer nie en goeie EN slegte goed met goeie EN slegte mense gebeur.

As jy ʼn goeie mens is, hard werk, in God glo en kerk toe gaan, dan sal jy geseënd wees. Totdat die lewe jou die Moeder van alle klappe toedien.

Bid en jy sal ontvang. Sug. Soms bid ons, en bid, en bid en niks gebeur nie. Jy ontdek dat jy nie ontvang nie, en stilte word ook ʼn antwoord.

Vergewe 70×70 keer, draai tog maar die ander wang en wees altyd die minste. Dit is wat van goeie Christelike vroutjies verwag word, dan nie? Die man is mos die hoof van die huis. Is dit nie iets wat mens in die kerk leer nie? Die feit dat jy afgeknou of mishandel word, word gerieflikheidshalwe misgekyk. Deur te ly vir jou geloof – in/deur/ter wille daarvan, versamel jy vir jou ʼn skat in die hemel. So, jy vergewe nog ʼn keer (al is dit die tienduisendste keer), kyk maar ander pad as hy laatnag met ʼn ongewone kleur lipstick op die kraag tuis kom, huil saggies in die stort en sê sjampoe het in jou oë so rooi gebrand, poeier jou blou oog ʼn meer menslike kleur en plak ʼn denkbeeldige pleister op jou flenter hart. Want jy is geleer om jou mond te hou en alles te verdra wat na jou kant geslinger word. En jy vergewe nog ʼn keer, want so word ons geleer. Selde word daardie selfde dogter geleer dat daar steeds vir haar ‘n goeie plek in die hemel sal wees, al weier sy om slegte gedrag te vergewe – vir die tienduisendmaalste keer.

Dit is maar redelik onlangs wat ek begin rebelleer het teen ander se knellende idees en moontlik ook dit wat ons Sondag na Sondag gevoer word. Miskien het hierdie tyd van gedwonge vleeslike inperking my oë op ʼn ander manier laat oopgaan – dalk juis omdat ons nie meer een of twee maal per week as ʼn groep gelowiges iewers in ʼn gebou met oorverdowende musiek en mooi woorde opgesweep kan word nie. Nou sit ek alleen voor die rekenaar en kyk die erediens op facebook of YouTube. Met niks anders wat my aandag aflei nie, hoor ek met nuwe ore soos nog nooit vantevore nie. En soms, net soms moet ek erken dat dit wat daar gepredik word en dit wat ek in my siel weet, nie ooreenstem nie.

Hemeltjie tog, as ek dertig jaar gelede geweet het wat ek nou weet, het ek seker nooit my kinders kerk toe geneem nie. En ek sou hul verseker nie gedwing het om na die diens op YouTube te kyk nie, bloot omdat ek dan vir die volgende uur sou wou verduidelik waarom die prediker nog goed moet leer wat ek reeds vergeet het. Nou kan ek met vrede in my hart die rekenaar afskakel en weet ek versondig nie my siel deur alles te moet glo wat hier verkondig word nie, net omdat dit so in die Bybel staan nie. (Ons verdraai te dikwels die versies soos dit ons pas!) Ek weet darem ook dat al die kerkloses nie noodwendig groter sondaars of meer God-loos is as die (soms) wit gepleisterde grafstene binne-in die kerk nie, want om nie in te koop by die kerk se indoktrinasie nie, beteken nie dat jy nie God as jou Skepper ervaar nie.

DIT is vryheid! Vryheid beteken dat daar net twee moet’s in my lewe oorgebly het : Ek moet eet en ek moet eendag doodgaan. Einde van storie. Niemand behoort ʼn groter inspraak in enige ander se lewe te hê nie. Die klem is op behoort, want in werklikheid is dit nie heeltemal so maklik nie. Saam met moedersmelk word ons soveel “moet en moenie lesse” ingegee dat jy dit sondermeer as die norm aanvaar. En onbewustelik teken jy eintlik jou vryheid weg. Maar jy weet dit ook nie tot die dag wat jou oë oopgaan nie. En miskien is elkeen se waarheid (en wat ek as ʼn gebrek aan vryheid beskou) iets heeltemal anders as my eie siening van vryheid. Ek wil graag my eie paadjie na my eie land van vryheid plavei, en ek reken dit sal OK wees om die volgende persoon toe te laat om sy eie paadjie ook op sy eie manier te plavei. Die feit dat ek nie van sy paadjie hou nie, moet nie soveel saak maak dat ek oor my eie skewe klippies sal struikel nie.

“Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be tapped by dogma – which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.” – Steve jobs

…Vryheid is om jou eie vingerafdrukke by die polisiestasie te kan neem. Ek sê maar net… 😊




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed