Jongste aktiwiteit:

Wat skryf ek?

Ek wil in samewerking met die projekbestuurder ‘n paar algemene notas skryf oor inskrywings wat gemaak word in die projekte.
Julle sal daarop let dat die kategorie wat voorheen as “Gorrels” bekend gestaan het in Junie verander het na “Meningstukke”. Die verandering moes lankal al gebeur het, maar eerder laat as nooit.

UITSLAE
Uitslae word binne 30 dae na die einde van die projek deur my aan die bestuur gestuur. Ek nooi almal uit om gerus met my op inkmoderator@gmail.com kontak te maak aangaande enige van die kommentare wat op jul werk gelewer is. Geen kommentaar of krit is evangelie nie, en jul is vry om daaroor te kommunikeer.

GEDIGTE
Onder hierdie afdeling is daar sekere inskrywings waarin skrywers hul voortdurend skuldig maak aan die volgende:
1. Indien jou vers met ‘n hoofletter afskop MOET jou vers met een of ander punktuasie sluit. Die reël is anders as jy jou vers met ‘n kleinletter skryf.
2. Moet asseblief nie elke sin met hoofletters begin nie. Hoofletters volg slegs as dit deur punktuasie voorafgegaan word, of as ‘n Eienaam gebruik word.
3. Spelling van (‘n, ï, ê, ë, í, é ens.) word agterweë gelaat.
4. Vermy so ver as moontlik om dwangrym in jou verse te gebruik.
5. Lees jou werk ‘n paar keer vóór jy dit plaas. Lees dit hardop, want die oor mis selde wat by jou oog verby glip.
6. Vernuwe jou werk deur interessante sinonieme en neologismes. Dit is die maklikste manier om geyktheid te vermy.

MENINGSTUK (Voorheen Gorrel)
1. Ek het besluit om die naam te verander om dit makliker te maak vir skrywers om te bepaal wat die inhoud hiervan behoort te wees.
2. Hierdie afdeling is níé vir verhale nie.

RUBRIEKE
1. ‘n Rubriek word gebruik om ‘n waarneming, wat die skrywer raak, met ‘n lesersgehoor te deel.
2. ‘n Rubriek plot die gedagtes van die skrywer op ‘n subjektiewe manier. Dit is ‘n persoonlike waarneming, en is meer anakdoties van aard eerder as streng feitlik.

ARTIKELS
1. Anders as met ‘n rubriek, is ‘n artikel alleenlik op feite geskoei. Akademiese en navorsingsopinies word in ‘n artikel vervat.
2. Artikels kan ook kompak biografies wees waar die skrywer korrekte feite oor iemand deel, bv. oor ‘n bekende skilder of ‘n geskiedkundige gebeurtenis.
3. By opdraggewende artikels (soos tydens INK se projekte) doen die skrywer navorsing om die tema te bespreek. Dit bevat nié persoonlike oortuigings nie.
4.Bronverwysings kan aangedui word

VERHALE
Die mees algemene jakkalse wat die wingerd in hierdie afdeling verniel is:
1. Swak sinkonstrukisie.
2. Lang sinne sonder nodige en funksionele punktuasie.
3. Spelling.
4. Swak karakterontwikkeling.
5. Lukrake gespring tussen gebeurlikhede sonder dat daar voorbrand gemaak word.

Dit is belangrik om te onthou waarom jy skryf. Geen skrywer doen dit vir hom- of haarself nie. Jy skryf vir jou gehoor, en indien iemand tyd uitkoop om jou werk te lees, IS DIT JOU PLIG om die beste weergawe van jou talent ten toon te stel. Jy kry een kans en as jy dit nie gebruik nie verloor jy ‘n leser.

Ek vertrou die kort skrywe sal help en inspireer.

Lekker skryf
IM




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed