Jongste aktiwiteit:

Digter & Skrywer? Lees hier – Ink Moderator

(Aangesien INK spog met soveel nuwe lede, wil ek net graag hierdie plasing herhaal vir insae deur elke lid) Eerste plasing is oorspronklik geplaas op 12 Mei 2021 en ons het slegs die datum aangepas

 

Ai, my lieflinkies

As `n Afrikaner, is een van die moeilikste dinge vir my om toe te gee dat `n Engelsman dit reg het. Sir Arthur Quiller-Couch het tereg as hy skryf “Kill your darlings“.

Dit beteken nie jy moet nou kombuislaai toe stap en die skerpste mes soek vir `n waansinnige moordtog nie. Nee. Dit is `n metafoor vir hoe `n skrywer sy werk moet behandel as hy/sy dit herbesoek. Die idee is dat jy dit objektief benader en sonder sentiment.

Ek het al voorheen hieroor murmurerings gehad en gemompel; `n uitgebreide jeremiade gedeel en gesanik, maar gun my `n herhaling vir nog `n gepruttelde klaagbrief.

Eerstens, daar bestaan `n voorliefde vir en `n neiging tot algemene flaters. As jy die terugvoer lees wat ek deur die jare geplaas het, sal jy my gelyk gee. Dit is iteratief aangespreek en steeds vind ek inskrywings wat skuldhebbend hieraan is.

Ek bespreek dit wéér en verlaat my daarop dat die flukse INKers sal kennis neem.

1. Die voortdurende gebruik van hoofletters sonder dat dit met punktuasie geoorloof is. (Poësie en Prosa). Hoofletters volg áltyd `n leesteken. Daarsonder bly dit ‘n kleinletter tensy jy natuurlik die naam van iemand of instansie noem. Die aanspreekvorm van ‘n Godheid sal óók ‘n hoofletter hê. Ek merk veral in poësie dat digters elke sin met hoofletters begin. Dit is ‘n uitgeleefde praktyk wat volgens die AWS nie meer geoorloof is nie.

2.(Poësie): Indien jou vers met ‘n hoofletter begin, MOET hy met een of ander vorm van punktuasie sluit. Die reël is anders as die vers met ‘n kleinletter begin. Punktuasie kan in hierdie geval weggelaat word.

3.(Poësie & Prosa): Die aksent op (‘n) is nie onderhandelbaar nie. Dit mag dalk soos net ‘n vuil kolletjie lyk, maar dit is noodsaaklik.

4.(Poësie & Prosa): Die ellips [AWS 2017] [Parafrase – my eie] Daar bestaan 4 redes waar ‘n ellips gebruik sal word.

(a) Dui ‘n langerige pouse aan en word dan met spasies aan weerskante geskryf.

(b) Dui aan dat ‘n woord of sinsdeel weggelaat is. Ook met spasies.

(c) Word gebruik waar ‘n sin of sinne uit ‘n aanhaling weggelaat word. Ook met spasies.

(d) Word by die direkte rede gebruik wanneer dialoog onderbreek word. Slegs wanneer ‘n deel van ‘n woord weggelaat word, word geen spasie verlang nie.

5.(Poësie & Prosa) DIE MEES BELANGRIKSTE! SPELLING. As jy die twaalf donder duiwels van Hades by my wil wakker maak, verwaarloos hierdie reël. Jy sal sien, ek diskwalifiseer enige inskrywing al is daar die geringste spelfout. Ek weet, en selfs ek, maak soms foute want die masjinale speltoetsers skuif en verander sekere woorde en woordorde. Dit bly egter die skrywer se verantwoordelikheid om toe te sien dat dit korrek is voor ons plaas. Wat egter ‘n groter bron van kommer is, is dat skrywers en digters spelfoute laat deurglip wat nie hieraan toegeskryf kan word nie. Waarom is dit só ‘n terminale fanatisme aan my kant? Is ek net banaal en purities, diakronies en leksikaal? Nee. Die antwoord is veel eenvoudiger as dit. Kom ons wees eerlik. Geen skrywer, níé eens een níé, skryf, plaas en publiseer vir hom- of haarself nie. Ons doen dit om gelees te word; om ons stem te laat hoor in ‘n massiewe klankoseaan. Klaar! Die oseaan is groot en luid en daarom is die kleinste offer wat ‘n skrywer kan bring, respek vir sy / haar leser. As iemand tyd uitkoop (want dit is wat gebeur) om jou werk te lees, het ons nie ‘n verpligting om die béste produk te lewer nie? Die skrywer het ‘n beperkte gereedskapkis waarmee gewerk word. Daar is nie beeldende kuns, video’ s, akteurs en dekor om die gehoor te vermaak nie. Jy het nét woorde waarmee jy elke kunsgreep behendig moet maneuver. Deur afgeronde en korrekte gebruike toon jy die respek wat van jou gevra word.

6.(Poësie & Prosa): Dit sluit aan by punt 3 & 5. Maak seker dat aksente soos kappies, umlauts (deeltekens) ens. aangebring word waar dit hoort.

7.(Poësie & Prosa): Punktuasie is jou vriend. Ek weet enjambiese aanbiedings in poësie vermy leestekens, en daar is plek daarvoor in digkuns. Daar is wel ook plek vir punktuasie, en as dit funksioneel ingespan word, kan dit ongekende waarde toevoeg. In Prosa het die skrywer egter nie digterlike vryheid nie, en is leestekens ononderhandelbaar.

Gou terug by die aanvang van my skrywe. Ai, die lieflinkies. Ons het almal reddingsboeie waarheen ons neig as dit by skryfwerk kom. Dit het egter tot gevolg dat deurgetrapte, geykte gebruike, woorde en maniertjies hul weg papier toe kry. Daar is niks nuuts onder die son nie*, veral as ons die Prediker moet glo. Alles wat ons vandag wil sê, is ongetwyfeld reeds voorheen gedoen. Dit maak skryfwerk moeilik maar nié onmoontlik nie. Ondersoek die taal wat oor ongerekende bronne beskik, en ek verseker jou, in die “oseaan” gaan jy op ‘n varsheid afkom. Ondersoek ook jou eie ervaringe en gedagtes om vas te stel of daar nie nuwe maniere is om ou goed te sê nie. Vermoor daardie lieflinkies en gee vir jou leser rede om weer en weer en weer jou werk te lees. Lesers is lojaal, en veral as hulle jou tyd, sweet en liefde daarin ervaar.

Ek geniet die diens wat ek aan INK lewer. Ek put buitengewone opgetoënheid uit elke inskrywing, selfs al is ek soms brutaal vitterig en vermanend. Ek wil elkeen van julle aanmoedig om aan te hou skryf en voortdurend te streef om te groei in jul kuns. Ek gaan baie stout wees en ‘n uitdaging hier plaas. Indien jy tot hier gelees het, laat ‘n kommentaar onderaan sodat ek vir eens kan bepaal wie skryf nét en lees nooit wat die moderator gorrel nie.

Skryfgroete
Altyd eerbiedig
Die uwe
Inkmoderator




8 Kommentare

  • Riaan Palmer

    Die moderator laat my in vrees leef. Soos op skool; daai een Engelse onnie wat jou altyd verskreeu het as jy "are" wanneer jy moet "is". Dan huil jy jouself mos aan die slaap daai aand. Dis darem nie regtig so erg nie. 'n Streng moderator wat slegs die beste ordonneer, lei daartoe dat die skrywers beter werk lewer om onse moderator tevrede te stel. Deesdae se praktyk waar al wat 'n deelnemer is, gelyk is en 'n goue "deelname trofee" kry, neem soveel weg van dié wat die trofee verdien. Gee mense hul beste as hulle weet daar is geen negatiewe of positiewe denouement nie? Persoonlik verkies ek dus die streng moderator bo die "ag jy skryf so oulik"-moderator. Dankie vir al die raad. Enige dag wat ek iets nuuts leer, is 'n goeie dag. Wat ek nou eintlik wil sê, is dat ek ook tot aan die einde gelees het. ;-) (Nou sit ek en wonder hoeveel foute is in my kommentaar waaroor die moderator se oë gerol gaan word.)

  • Amanda

    Vitterig? Vermanend? Hel, Ink Moderator laat my na my hartpille gryp. Dan kalmeer ek en oordink die vermaning. Gaan loop 'n draai, Gooi 'n stywe Oros en oordink nog meer. Dan sluip ek terug skootrekenaar toe soos 'n stout kind en herskryf maar die stukkie gorrel of ses. Dankie dat jy ons dryf om jou verkeerd te bewys. Dit bring die beste in ons uit!

  • Inkmoderator

    Riaan, dankie vir jou komiese, maar tersaaklike kommentaar. Jy is welkom.

  • Inkmoderator

    Amanda, dankie dat jy ten minste gelees het. Bewys my verkeerd asseblief. Elke skrywer is darem ook nie skuldig aan alles wat hier genoem word nie, maar as `'n vermaning (in goeie gees natuurlik) bydrae tot groei lewer, wen ons albei. Dankie vir jou deelname en die komiese reaksie.

  • morne du preez

    Wel in mate ter sprake voel ek daar is soms 'n paar reëls wat mens soms wil breek, i.v.m om jou beeld te skets in jou skryfwerk, as 'n abstrakte kunstenaar wil ek soms die abstraktheid in my skryfwerke ook naboots. Ek stem wel met spelling. Dankie moderator vir jou insettinge, ek hoop om as skrywer my werke te verfyn met drama, rebelse oortuigings en abstrakte neigings!

  • Annamarie

    Ek sit ook dikwels in opgewondenheid dog met vrees en bewing en wag op die Inkmoderator se deeglike evaluasie van ons maandelikse bydraes. Ek geniet dit só dat ek skoon vies is vir myself wanneer ek nagelaat het om deel te neem en daarom dan twéé maande moet wag om iets nuuts te leer. Ek deel Riaan se siening dat doekies omdraai en suutjies trap nie bevorderlik sal wees vir gehalte skryfwerk nie.

  • Loretta Szikra

    Beste IM. My leestekens laat veel te wense na, en so ook die onnosele spelfoute wat mens soms oor en oor miskyk. Jy laat my net weer besef hoe baie ek al vergeet het en hoeveel ek nog kan leer. Dis altyd lekker om te leer; al maak jy ons binneste en penne bewe, is jou insae, kritiek en kennis van ons taal iets wat almal ter harte moet neem. Ons taal en die gesonde voortbestaan daarvan is van absolute belang, daarom moet ons as skrywers dit tog met trots, korrek kan oordra aan ons nageslag. Afrikaans is so 'n mooi, veelsydige en interessante taal. Hoekom dit afskeep en laat vertroebel as dit ons stemme met trots kan dra?

  • Marlene Erasmus

    Beste IM, soos Riaan noem, verkies ek ook: "Persoonlik verkies ek dus die streng moderator bo die “ag jy skryf so oulik”-moderator." maar, so bietjie tong-in-die-kies wou ek darem self al trane stort ... Wel, ons is hier omdat ons wil leer en groei ... Jy laat my ook net opnuut besef dat ek nog so baie het om te leer! Dankie vir INK

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed