Wees jou eie Hero
(Woordtelling : 1216)
My héél eerste gedagte was dat ʼn enkele stuk musiek nie iemand se lewe kan verander nie. Hoe is dit moontlik? Maar toe begin my gedagtes bietjie dwaal en ek onthou van ʼn tyd toe ek nog onderhoude met gemeentelede oor hul interessante stokperdjies gedoen het. Die dominee het opdrag gegee dat ek moet vra hoe hul geloof hul stokperdjie beïnvloed. My hele gedagtes hieromtrent was net een groot “Huh??”. Tot vandag toe het ek geen idee hoe geloof en stokperdjies by mekaar inpas nie, tensy geloof jou stokperdjie is.
Dus, toe die vraag gevra word oor hoe ʼn spesifieke stuk musiek jou ʼn lewensles kan leer, was my gevoel nogal dieselfde. “Huh? Kan musiek jou ʼn lewensles leer?” Maar tog, wanneer ek my gedagtes nog ‘n entjie verder terug in die verlede dwaal, besef ek dat daar inderdaad so ʼn liedjie was, en die lirieke het my op ʼn seer plek, reg in die middel van my hart, geslaan.
Dit was laataand, op pad terug van my eerste AlAnon vergadering. Nie eintlik ʼn plek waar ek wou wees nie en baie skaam omdat ek so iets nodig gehad het, maar Hubby se drinkery het my begin onder kry en ek het na strooihalms gegryp in die hoop dat ek sou leer hoe om nie in sy stink whiskey glas te verdrink nie.
Dit het vroeër die aand gereën en die straatligte het die nat pad in mooi kleure laat blink. Terwyl ek wag dat die verkeerslig na groen oorslaan, sing Mariah Carey ʼn lied wat my na asem letterlik wegslaan. Dit was lanklaas wat ek soveel betekenis in ʼn liedjie gehoor het. Miskien was dit die stilte van die somernag tesame met die tyd om te reflekteer wat gemaak het dat ek met alle aandag sou luister.
“There’s a hero
If you look inside your heart
You don’t have to be afraid
Of what you are
There’s an answer
If you reach into your soul
And the sorrow that you know
Will melt away”
As kind het ek nooit geleer om my eie “hero” te wees nie, en om die waarheid te sê, ek het ook nooit geleer hoe om probleme om ʼn sinvolle manier te hanteer nie. Daar was verwag dat ek ʼn soet dogtertjie sou wees, een wat gesien maar nie gehoor word nie, en verkieslik een wat nie ongemaklike vrae vra nie. Enige ander kwellinge moes aan die Here gegee word en Hy sal sorg dat dit reggemaak word.
Ja Mammie, dit is La-La-Land daardie. Mens kan nie ʼn sinvolle lewe leef as jy soveel energie spandeer om jou probleme te ontwyk nie. Dit is ʼn baie blikkerige en leë bestaan wanneer ons nie eienaarskap van ons probleme kan, of wil, neem nie.
Tog het ek geleer dat ek ʼn gees het wat eendag hemel toe sou gaan indien ek ʼn soet dogtertjie is. Maar … ek het nooit geleer dat jy jou oë na binne kan keer, daardie einste gees kan vra om jou te help om jou uitdagings uit te stryk nie. Ek het verseker nie geweet dat sy ʼn naam het nie, en dat sy baie definitief met jou praat nie – jy moet net weet hoe om te luister.
“And then a hero comes along
With the strength to carry on
And you cast your fears aside
And you know you can survive
So when you feel like hope is gone
Look inside you and be strong
And you’ll finally see the truth
That a hero lies in you”
Ek het ook ʼn nie geleer dat elke mens ʼn innerlike krag het wat jou asem sal wegslaan nie, want word ons dan nie Sondag na Sondag vertel hoe swak en sondig ons is nie? In latere jare sou ek begin dink dat hierdie ʼn sagte vorm van mishandeling is – om iemand die hele tyd te vertel hoe sleg en klein hy eintlik is. Dat jy die hele tyd om verskoning moet vra vir al die slegte dinge wat jy bewustelik en onbewustelik doen, en dan nooit leer hoeveel mooi en hoeveel krag die Here reeds voor geboorte by jou ingeplant het nie. Dat jy eintlik inherent goed is, maar dikwels baie dom en slegte keuses maak nie. Almal – Mammie en die kerk inkluis – is doodbang dat mens ‘n opgeblase ego sal kry wanneer jy leer hoe om na binne te kyk en te sien hoe groot jy werklik is. Ons aanvaar maar dat ons klein en sondig is, omdat dit vir duisende jare reeds so aan ons voorgehou word.
“It’s a long road
When you face the world alone
No one reaches out a hand
For you to hold
You can find love
If you search within yourself
And that emptiness you felt
Will disappear”
Dit is nie maklik om jou gees soveel toegang te gee dat hy jou hele lyf en hart mag vol sit nie. Dit is ook nie maklik om jou gees soveel te vertrou en te verstaan dat maak-nie-saak-wat nie, dit jou altyd op die regte pad sal lei. Eers dan weet jy dat jy miskien op jou eie kan wees, maar nooit alleen is nie.
“Lord knows
Dreams are hard to follow
But don’t let anyone
Tear them away, hey yeah
Hold on
There will be tomorrow
In time you’ll find the way”
Dit is so maklik vir een persoon om die drome van ʼn ander met ʼn paar goedgekose woorde te verpletter. Daardie brose plantjie met een skop, wortels en al uit die aarde te lig en te laat verbrand in die warm somer son. As kinders word daar vir ons groot drome oor eendag gelag en ons leer om stil te bly. Dit is immers veiliger as om verneder te word! As grootmense leer ons om versigtiger te wees met wie ons daardie diepste hartswense deel. Nie almal is “veilige mense” nie.
Hierdie spesifieke liedjie was (is) nou wel nie my gunsteling nie, maar dit het my hart geraak op ʼn tyd toe ek gedink het dat alles tot stilstand gekom het. My huwelik was aan flarde, maar Hubby het nie belanggestel in berading nie. Sy bottel was sy eerste liefde en niks en niemand sou tussen hulle tweetjies kom nie. Ek het daardie someraand besef ek kan iets oorleef, maar ek moes eerste leer hoe om my eie hero te wees.
Daar is inderdaad so ʼn held diep weggesteek in elke persoon. En al kom ek elke keer in die moeilikheid oor hierdie stelling, sal ek dit herhaal tot daar nie meer asem in my lyf is nie: “God kan saam met jou op jou lewenspad stap, Hy kan jou hand vashou en jou selfs met tye dra, maar Hy kan nie jou lewe vír jou leef nie en Hy kan nie jou probleme vir jou oplos nie.” As ons ons probleme net die hele tyd weggee, leer ons niks. Ons bou ook nie innerlike krag om ons uitdagings te bowe te kom nie.
So nou en dan wanneer die radiostasie daardie liedjie sou speel, luister ek met groot aandag na die lirieke en herinner myself net dat dat Ano nie sommer gaan lê wanneer dit voel asof die storms die huis wil weg waai nie. Daar is ‘n hero daar binnekant wat weet hoe om kaalvuis te baklei.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek