Xmas
Op die plaas, soos die gebruik
het ons Kersboom nog
na O Tannenbaum geruik,
het ‘n huis vol nageslag
na Boekevat gewonder
wanneer kom Kersvader tog!
Toe gaan tree ons almal af
saam met die oudstes by die see,
kry ‘n plastiekboom wat opvou
en met crinkle paper en tinsel,
wat ons saam daarom vou,
nog steeds ‘n gloed van vrede gee.
Klokslag teen laat Oukersdag
kom die Morawiese blaasorkes
met In die stad van Koning Dawid,
Al was ek nie daar nie en Stille Nag –
hang ons by die vensters uit
vol heimwee en liefde en lag.
Kersdag is ons nog ‘n ry vol saam
in die oorloop kerk waar almal groet.
Ons vorm soos die Von Trapps
feitlik die kerkkoor vir Jesuskind soet.
Daarna is daar Ouma se Kersmaal –
ons hou hande en bid in sy Naam.
Die stamboom het met tyd gesterf
en takke is wyd versprei geënt.
Ons Kerstafel, ons boompie, ons lig
het gekrimp tot net ons twee stil
die laaste jare na die diens verplig
gift vouchers ruil en ons braaivleis kerf.
My laaste Kersfees uit keuse sielalleen
was ‘n stryd met die lewe en die Seun
en die wonder oor waar is alles heen,
met ‘n broodjie in my hand, oor wie is ek
en het Christus steeds ‘n plek
in die smag van mense na die dag se seën.
© Charleine Collins 19 Desember 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.