Aan die Voet van ‘n Berg
Aan die voet van ‘n berg
op die stoep van ‘n huis
sit ‘n man met ‘n baard
en ‘n pyp in sy vuis
en sy oë kyk ver
oor die grasvlaktes heen
sy gedagtes dwaal wyd
soos die wind as dit reën
en die son wat gaan lê
diep herinneringe op
van ‘n huis wat eens vol was
van liefde en hoop
maar die keuses van gister
word die hartseer van nou
as die beelde van saamwees
in die skemer verflou…
Aan die voet van ‘n berg
op die stoep van ‘n huis
loop ‘n traan oor sy baard
en die pyp in sy vuis
©Anton Bosch 27/11/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.