Jongste aktiwiteit:

Littetekens op my siel

Ek was 15 en swanger met die army uniform se kind (ers sou ek tydens die miskraam uitvind), Hy het by ons in die huis gebly, want hy wou nie nadat hy met die army klaar was, na sy eie disfunksionele huis teruggaan nie. Dit was ‘n fout, ons almal weet dit nou, maar dis water onder die brug (die storie is eintlik baie langer en much more complicated than that!)
Ek besluit toe (nadat ek dit selfs nie eens hardop vir myself voor die spieël kon sê nie) om die babymaker van sy sukses te vertel.
Na ete kom laai my sussie se vriendin en die se ma haar op om die naweek saam met hulle te kuier. Ons kyk almal TV tot slaaptyd en toe kry ek en Will ouder gewoonte tyd om alleen te wees vir ‘n rukkie. Hy wil begin vroetel (dit begin al vir my voel of verhouding net uit vroetel bestaan), maar ek val sommer met die deur in die huis.
“Will, Ek is swanger.” sê ek en al die benoudheid en alleenheid en verlatenheid van die afgelope vier maande kom lê in hierdie een oomblik van waarheid naak in my stem.
“Is jy seker?” vra hy. Ek moet seker dink hoe stupid kan een mens wees, maar al wat ek sê is “Ja.”
“Shit!” sê hy. “Wat gaan ons doen?”
“Vra jy my?” vra ek en die teleurstelling oor hy so rigtingloos en planloos is in hierdie krisis oomblik slaan duidelik deur in my stem.
“Ek sal aan iets dink.” sê hy. “Kom ons gaan slaap.” Sy hele lus vir vroetel sommer weg geskrik.
Ons gaan slaap en dit word more.
Dit is Saterdag. My pa en ma vat die seuns dorp toe om vir hulle ‘n paar stukke klere te koop. Ek en Will is alleen by die huis.
“Ek het gister aand ‘n plan gekry.” se hy.
“Wat?” vra ek.
“Kom saam.” sê hy en sleep my aan my hand garage toe. Hy maak die deur oop en trek sy nuwe motorfiets uit. “Lê op die garage vloer.” sê hy. Ek kyk hom vraend en verbaas aan.
“Wil jy van die probleem ontslae wees?” vra hy sag, maar ferm.
“Ja.” sê ek.
“Nou vertrou my dan en doen wat ek sê.”
Ek gaan lê op die garage vloer. Hy stoot die motorfiets oor my maag. Dis seer, maar hy doen dit nog twee keer. Ek huil. “Staan op.” sê hy.
“Dink jy dit sal werk?” vra ek tussen my trane deur.
“Ek weet nie.” sê hy nadat hy weer die motorfiets gebêre en die garage toe gemaak het. “Ons moet maar sien.” Hy sit sy arm om my skouers en lei my in die huis in. (Dit is nog een van daardie tekens wat soos daglig uit gestaan het oor die tipe mens wat hy is, maar ek wil so graag van die probleem in my lyf ontslae raak dat ek dit mis).Ek gaan lê op my bed. My maag is seer. My ma’le kom later by die huis en ek staan op. Die ergste seer is verby.

Die long en die short van die storie is dat ek op my ma se verjaardag (nadat ek hulle uiteindelik ook vertel en ons drie lekker saam gehuil het) ‘n miskraam het. Dit was erg traumaties!

Ek word wakker met pyn onder om my buik. Ek sê eers niks, want dit is my ma se verjaardag. Later word dit erger en ek vertel my ma. Ek wil benoud weet of dit normaal is. My ma sê sy was so lank laas swanger dat sy nie meer kan onthou nie.
Sy bel haar vriendin wat ‘n verpleegster was en vra haar. Sy sê dit klink nie vir haar lekker nie, maar dis nie noodwendig ‘n krisis nie. Ons moet dit maar dophou en liewer dokter toe gaan as dit te erg raak.
My ma check elke kort-kort hoe ek voel. Dit bly die hele tyd seer, maar ek kan eerlik nie sê dat dit seerder word nie. Ek wil ook nie my ma onnodig ontstem op haar verjaardag nie.
Na ete voel dit vir my of my maag my toilet toe jaag. Miskien het ek maar net een of ander maag virus. Ek gaan sit op die toilet en dit voel vir my of ek moet druk. Ek gee toe aan die behoefte. Skielik gly daar iets warm uit my lyf uit. My hart hou op met klop… ek weet GLAD nie wat aan die gang is nie! Dit voel of iets uit my hang… Ek kyk tussen my bene deur in die toiletpot in. Millimeters bokant die water hang daar ‘n klein Cupie poppie aan ‘n naelstring!! Ek skreeu. Dit klink rou, primitief en onnatuurlik!
Die toilet deur ruk oop. My ma staan daar. My pa loer oor haar een skouer en Will oor die ander.
“ My kind!” huil ek. “My kind… my kind…” Ek kry niks anders uit nie. Die wêreld hou vir my op om te bestaan. My pa, my ma, Will, die toilet, die huis, die geskarrel om my is weg. Ek sweef in ‘n wit ruimte met die baba wat aan die naelstring uit my lyf hang. Daar is geen fisiese pyn nie. Net smart… en ‘n bewustheid van die baba wat nie buite my lyf behoort te wees nie…
My pa bel die dokter en die sê ons moet dadelik hospitaal toe – hy sal daar vir ons wag. My ma maak die baba in ‘n handdoek toe. My pa dra my kombi toe met my ma wat sentimeters weg die baba saam dra. Will ry ook saam. My sussie en die twee boeties huil, maar ek weet dit nie… ek is in ‘n wit ruimte van onwerklikheid. My pa lê my op die kombi se sitplek neer. My ma sit die babatjie versigtig tussen my bene. Will skuif in en tel my kop op sy skoot. Ek weet nie dat my pa vining ry nie. Ek weet nie dat my ma sit en huil nie. Ek weet nie dat Will my hare streel nie. Ek voel net hoe die warm lyfie tussen my bene een of twee keer saggies roer en dan stil raak… maar ek registreer nie dat die babatjie sy stryd verloor het nie. My kop is leeg… leeg… leeg…

Ons kom by die hospitaal aan. Die dokter is daar. Ek word dadelik teater toe gestoot. Alles voel onwerklik. Dit voel of ek na ‘n horror movie kyk. Ek hoor alles wat gebeur en ek sien die verpleeg personeel en die dokter rondskarrel, maar dit is asof dit iewers anders gebeur – met iemand anders.
Die dokter praat eers iets van die nageboorte en dan roep hy uit: “ Hier is nog een!” Ek dink… dis nie moontlik nie…
Heelwat later word ek in ‘n saal ingestoot. Ek is die enigste pasiënt daar. Ek weet nie wanneer hulle die drip in my arm gesit het nie. My ma-hulle is langs my bed. Will ook. Hulle hou my hande vas.

Die volgende oggend druk ‘n suster ‘n vorm onder my neus in.
Teken hier dat ons jou kinders kan verbrand.” sê sy en druk ‘n pen tussen my vingers van die drip arm in. Vir ‘n oomblik voel dit of iemand my hard met ‘n vuis teen my bors slaan. Ek is skoon dom van skok. “Teken.” sê sy. Ek voel of ek gaan opgooi, maar ek teken. Toe sy uit is, draai ek my kop in die hospitaal kussings in. Ek skreeu in die kussing en ek begin histeries huil.. soos ek nog nooit voor daardie dag nie en nog net een keer daarna gehuil het!

Ek het, totdat ek twee-en-dertig jaar oud was, baie swaar aan die skuldgevoel oor die vrug afdrywing gedra. Tot een aand toe Romans 12:1 vir my lewendig word: “There is therefore no condemnation for those who are in Christ…”
Ek kon my pakkie by die kruis neersit en wegstap op die pad van genesing.

Vandag is ek volkome heel en getroud met my soulmate…

THERE IS HOPE AFTER HURT.

EK WEET.

Lorraine Smit
2018




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed