’n Ruimtetuig vir ’n lentekind
stuur vir my ’n lugballon
wat deur die ruimtes swewe
verby bome, oor teerpaaie,
deur wit wolke wat patroon
van hier tot daar waar Tulbagh
aan Saronsberg se voete
(in die lente) lê en droom
want
lentekinders kort ’n lugballon
wat deur die bloutes wewe:
oor koringlande – ryp van aar,
plasse water wat weerkaatsings baar,
wit lelies en rietbos om ’n dam
en oor wingerdstok in kruis gespan
al langs hout- en draadstellasies –
beloftes van herlewing
teen ’n Bolandberg se hang
vang vir my ’n ruimtetuig –
’n reuse lugballon
wat êrens (tussen niks en nêrens)
verby vlug voor die son
en laat my vry in die boaardse,
laat sagte briese my verlei
oor skape en oor beeste
wat wei deur groene gras –
daar waar die Land van Waveren*
(soos ’n kleinood) in die voue
van ’n blouberglandskap pas
© Carma Shaw
26 September 2019
2:23
* Land van Waveren – eerste naam wat aan Tulbagh omgewing gegee is deur W.A. Van der Stel in 1699.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Puik gedig!