Op die asem van ‘n Pinksterwind
waar Pinksterwinde
in lank vergete doringskrif
vergifnisbriewe oor die aarde skryf
hier waar sonde so welig bloei
seerkry-wonde om genesing stoei
as daglig dan skaam
verby beloftewolke loer
om stuitig vir die son te koer
staar ons met splinteroë
deur gebroke rame
sien slegs ‘n spieëlbeeld
van eie ego (in lasuurblou)
vir dit – wat ons wil onthou
skeur natuur se klank-katedraal sag
val dit soos ‘n amber genade-verhaal
kom kruis die volle wete, diep geplant
daar is my toekoms reeds betaal
waar dit saam met herfsblaar
in ‘n drie-dag somtotaal
stil na benede draal
op die asem van
‘n Pinksterwind
© Anzé Bezuidenhout
8 Kommentare
-

Koekekranka
Beslis 'n gunsteling!!! Baie dankie hiervoor!
-

Arnold
"staar ons met splinteroë deur gebroke rame sien slegs ‘n spieëlbeeld van eie ego (in lasuurblou) vir dit – wat ons wil onthou" Hierdie staan vir my uit.
-

neels
Sjoe Anze ek moet vir jou tien sterre gee hier
-

Viooltjie
Goeie werk hier gelewer Anze :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Sjoe, hier het jy vir goud gegaan. Uitstekend.