as die bosveld blom
die bosveld is groen
die bosveld is mooi,
maar ek onthou ook hoe droogte
die lewe onder elke doringboom
uit roetine kan gooi
donkerrooi skilderye
wanneer die son stofbedek
van die horison af rol,
wek herinneringe uit ander tye
se donderstorms op die kim
braaivleisvure vlam waarskuwend
onder vetdrup van boerewors
wanneer geur van sosatie en tjops
oor akasias die verte in rol
en laataand vonk stompe nog
groetnote teen die nagfluweel
wanneer die maan sy helfte bêre
en bedags skuilplek soek,
pluk ons die sterre en herrangskik
dit rondom die suiderkruis
terwyl nagdiere die dag
se natuurkomposisies voltooi
©adéle
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.