Capucine se laaste tree
Motors flits soos dominoes
vallend deur die nag,
voetgangers haastig
elk na ʼn eie lot oppad.
.
Agt verdiepings op
staar sy af deur ʼn misvlaag –
die uitsig asemrowend
soos ligte van Lausanne
die aandsfeer aanraak
Die lug voel dun
en kil vanaand –
haar asem koud
met elke teug
soos die winterbries
haar longe ysig vul.
Hier waar sy telke maal
die uitsig kom waardeer
sê sy vanaand vaarwel
en bid saggies
vir ń laaste keer.
In gewiglose ruimte
trap sy met een voet
die randsteen oor –
niks sal haar vir langer
meer hier gevange hou…
Soos die vleuels van ń arend
sprei sy haar arms wyd –
chaos in haar verkalm
waar sy vryval
deur die leemtes van depressie
en in maniese psigose
haar oë vir ewig sluit!
* Capucine: 6 Jan 1928 – 17 Mar 1990
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek