De Hoop
Die vrou loop in die skemer
sy loop haar eie pas
met afdraande paadjies
deur enkelhoogte gras.
Tot waar sawens se son
– klatergoud – oor water gly
eer dit wegsink
in koper newels
‘wyl bloot net skadu’s om haar vly . . .
Sy wis die spieëlgladde blink
sal aanstons verdwyn
na die donker, stil dieptes
waar geen lig ooit sal skyn.
Sy wonder oor die lewe
haar oë sien die dood
in die swart struikskelette
(se vingers)
wat uit die duisternis stoot.
Sy’t modder aan haar voete,
maar ‘n lied glip uit haar keel
haar woorde word ‘n asem . . .
sy laat dit op die aandwind speel.
Tot ver oor alle rante
tot waar die son met skemer gloei
en ook oor gras en riete
neffens water
wat deur De Hoop se vleiland vloei.
© C. Shaw
6 Maart 2016
10 Kommentare
-
-
Anria
Pragtig.
-
Somerreën
Lief dit, jou beskrywings is so mooi....
-
Evelyn van der Merwe
Uitstaande beksrywings en woordgebruik soos maar net jy kan. Hou hiervan.
-
Amaspoke
Pragtige skrywe. Dit laat my aan myselwers dink.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Carma op haar beste met hierdie pragtige gedig. altyd so lekker om jou gedigte te lees