Die ander vrou
“Lenie, ek dink Wynand verkul my met ‘n ander vrou!” sê Inge in ‘n tranerige stem vir haar vriendin aan die anderkant van die lyn.
“Ag nee Inge, Wynand sal nooit na ‘n ander vrou kyk nie, hy is te lief vir jou.”
“Lenie jy verstaan nie! Wynand is skielik so geheimsinnig. As hy oor die foon praat en ek kom ingestap bly hy skielik stil en stap na ‘n ander vertrek om die gesprek voort te sit. Ek is seker hy steek iets vir my weg.”
“Ai vriendin,” sê Lenie, is dit nie maar werksake nie?”
“Nee, Lenie. Hy het in die byna dertien jaar wat ons getroud is nog nooit so snaaks opgetree nie. Hy het nog altyd openlik voor my oor sy werksake gepraat. Nog erger, na die laaste geheimsinnige oproep het hy skielik ‘n verskoning gehad dat hy moet ry. Hy het iets van werkverpligtings gebrom voor hy in sy motor geklim het. Ek is seker daar is ‘n ander vrou. Jy weet die statistieke wys dat mans van sy ouderdom dikwels verhoudings met jong meisies het om weer jonk te kan voel. Baie soos die ou bok wat ‘n jong blaar soek.”
“Haai vriendin, dan bly daar net een ding oor, as jy hom regtig verdink, dan moet jy hom agtervolg as hy weer ry. Dan kan jy self sien waar hy gaan en wie hy ontmoet.”
Na hulle gegroet het sit Inge die foon neer. Sy is oorgehaal om uit te vind wat Wynand vir haar wegsteek.
“As dit ‘n vroumens is sal ek haar met my kaal hande vermoor, en sommer vir hom ook,” sê sy vir haarself. “Om te dink na 13 jaar en vier kinders, skop hy my nou eenkant en gaan soek vir hom ‘n jong blaartjie. Dit is nou net soos die storie wat ek verlede week in die Keur gelees het.”
Intussen het Wynand van die werk af gekom en haar die gewone piksoentjie gegee en oudergewoonte die kinders met hulle huiswerk gehelp. Inge het soos gewoonlik liefies vir hom geglimlag maar saggies vir haarself gesê: “Skynheilige ou bok, ek sal jou kry, wag maar jy sal sien, jy kan nie met my mors nie.”
Die aand het sonder enige voorval verloop en Inge het byna begin dink dat sy haar maar net verbeel. Maar die nag droom sy van ‘n vreemde vrou in Wynand se arms en erger nog hulle het ‘n string kleintjies. Sy droom dat sy die vrou bestorm en haar oë wil uitkrap en dat Wynand haar keer en toe met sy arm liefderik om die vreemde vrou wegstap met die kleintjies wat hulle volg. Inge word met ‘n ruk wakker. Langs haar lê Wynand nog heerlik en slaap want vandag is Saterdag. Hy lyk so mooi en die onskuld vanself, met die fyn lyntjies om sy oë en mondhoeke, dat sy hom sommer wil wakker soen.
“Ek moet myself regruk wat makeer my? Ek ken myself nie so nie. Na alles was dit maar net ‘n droom. Lenie is reg Wynand sal nooit so iets aan my doen nie daarvoor is hy te lief vir my.”
Inge voel skoon skuldig dat sy hierdie nare dinge gedink en gedroom het.
Versigtig staan sy op om vir Wynand ‘n ekstra lekker ontbyt te maak, vandag is hulle troudag en sy sal sien of hy dit onthou. Sy is seker dat hy sal en dan sal al haar nare gedagtes vir altyd verdwyn. Die kinders word een vir een wakker maar van Wynand is daar geen teken nie.
“Ek sal hom maar verras met ontbyt in die bed. Hy werk so hard in die week en kla nooit.”
Inge pak die skinkbord vol van al die lekkerste kos wat Wynand so graag eet. Op ‘n manier voel sy nou minder skuldig.
Versigtig stap sy die gang af na hulle slaapkamer, net betyds om te hoor hoe Wynand sê: “Wag ek moet eers neersit, nou-nou hoor my vrou. Nou goed René, dan ontmoet ons mekaar so oor ‘n halfuur by die Gym.”
Inge voel hoe sy wil inmekaarsak van skok. Dan is dit waar. Dan het Wynand ‘n verhouding met ‘n ander vrou. Geruisloos sluip sy terug kombuis toe met die skinkbord bewend in haar hande. Inge sak op die naaste stoel in die sitkamer neer en bly net so versteen sit. Sy kan nie ophou dink aan Wynand en René saam nie, Dan is René die vrou in haar drome. Gelukkig is die kinders nie daar om haar so te sien nie, elkeen het in sy eie rigting verdwyn.
Wynand kom opgewonde uit hulle slaapkamer en gee haar oudergewoonte ‘n piksoentjie op die voorkop voor hy ry. Hy kom nie eers agter in watter toestand Inge is nie. Inge voel of sy haar gesig wil gaan was en alles wat haar aan Wynand laat dink wil sy uit die huis gooi. Nadat Wynand haar gegroet het kry haar woede die totale oorhand.
“Dan maak hy nog of daar niks verkeerd is nie. Hy wil nie net ‘n jong blaar hê nie hy wil sommer weer ‘n jong blaar word met sy geoefen by die gimnasium. So ‘n tweegesig jakkals, hoe kan hy dit aan my doen? Ek wat nog altyd probeer het om die beste vrou vir hom te wees. Ek sal sowaar na die gimnasium gaan en die vroumens se oë uitkrap net soos in my droom.”
Verwoed klim Inge in haar motor maar haar hande bewe so dat sy die motor met moeite aangeskakel kry. Die trane loop nou vrylik oor haar wange en Sy beweeg met moeite deur die Saterdagoggend verkeer. Dit kom nou daarvan, haar ma het haar gewaarsku dat so ‘n aantreklike man soos Wynand alle vrouens se besit is. Maar sy wou nie luister nie want sy het hom so lief, selfs nou nog, besef sy met ‘n skok. Die ergste is dat sy vas geglo het dat hy ook so oor haar voel. Maar duidelik voel hy anders. Duidelik het hy hierdie René vroumens liefgekry.
Eindelik kom sy by die gimnasium aan, maar Wynand se motor is nie daar nie. Natuurlik is sy nie ‘n lid nie en dus kan sy nie vir Wynand gaan soek nie.
“Ek moet vir Lenie bel en vertel wat gebeur het, sy sal weet wat om te doen.”
Vervaard krap Inge in haar handsak om haar foon te soek.
“Ag nee, in die haastigheid het ek het my foon by die huis vergeet!”
Inge voel so moedeloos en verslae dat sy sommer net daar omdraai en terug ry huis toe. In haar gedagtes dink sy oor-en-oor wat sy vir Wynand gaan sê as hy huis toe kom, maar eintlik wil sy hom nooit weer sien nie. Maar ter wille van die kinders sal hulle dinge moet uitpraat.
Deur haar trane sien sy nie Wynand se motor in die straat geparkeer nie. Sy het net een ding in gedagte en dit is om in die slaapkamer te kom waar sy haar in haar privaatheid kan uithuil en kan reg maak om vir Wynand te konfronteer. Gelukkig is die kinders nie daar nie.
Inge stamp die voordeur oop, voor haar op die grond lê roosblare. Die hele gang tot in die slaapkamer is gestrooi met roosblare en die heerlikste aromas kom uit die slaapkamer.
“Ah, René, hier is my vroutjie nou. Vroulief ontmoet vir René die beste skoonheidsterapeut wat geld kan koop.”
Voor Inge staan ‘n jong fyngeboude mannetjie met ‘n wegstaan kuifie. Hy lyk nou nie eintlik na ‘n Glam Guru nie maar Inge gee nie in die minste om nie. Al wat deur haar kop gaan is dat René nie ‘n vrou is nie, maar ‘n man. Dan was al die geheime oproepe nie met ‘n vrou nie maar met ‘n man, en dit om vir haar ‘n verrassing te beplan.
“Ek het net begin bekommerd raak dat jy jou verrassing gaan mis toe jy nie hier was toe ons hier aangekom het nie. Ongelukkig het jy jou foon hier vergeet. Maar nou is alles reg, jy is net betyds vir jou massering en vel behandeling wat ek vir jou gereël het vir ons troudag. Baie geluk my skat, dit was nogal moeilik om alles te reël dat jy niks agtergekom het nie en ‘n paar keer het jy my amper uitgevang.”
René gaan jou ekstra mooi maak sodat ons twee vanaand ‘n baie spesiale afspraak kan hè. Ek het klaar gereël dat die kinders by Ma bly so ons het die hele dag vir onsself.”
Wynand babbel opgewonde voort, maar Inge hoor niks meer nie. Sy voel so skuldig oor al die nare goed wat sy gedink het en veral die dinge wat sy wou gedoen het. Natuurlik is haar Wynand nie so nie. Die trane loop oor haar wange van pure verligting en vreugde en Inge kan nie help om vir haarself te lag oor die snaakse petalje nie.
“Nou die trane?” vra Wynand besorg.
Inge kan haarself nie sover bring om die oomblik te bederf met die waarheid nie. Die waarheid is ‘n storie vir ‘n ander dag. Miskien vir hulle oudag. Vir nou is dit meer as genoeg om in Wynand se arms te wees en om hom styf vas te hou en te weet hy behoort net aan haar.
“Dit is sommer maar trane van blydskap omdat ek die beste man in die hele wêreld het en omdat ek so lief is vir hom en hy vir my.”
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2018 - Poëtiese orde projek Onthou ook asb dat ons nie die projek bydraes mag laat krit nie asb