Die edel van amber
In Pole
– waar dit koud is –
aan die Baltiese-see
se kus
in ‘n land van baie sneeu
en reën
en mis
het – miljoene jaar gelee’ –
‘n boom
– in immergroen geklee –
harstrane
oor haar stam laat loop
warm-goud in kleur
en muskus was die geur
harpuisgom het uit wonde
van die denneboom gebloei
en deur krake in haar bas
– vir ‘n honderd jaar of meer –
na die woudvloer neergevloei
om daar – allengs –
tot heuningklip te fossileer
*
in Pole
– waar dit koud is –
aan die Baltiese-see
se kus
in ‘n land van baie sneeu
en reën
en mis
staan ook nóú
‘n den in immergroen
reeds – vir vele jare al –
met haar eed’le lot versoen
dat
– oor millennia van nou –
die trane wat sy ween
om die polse
en die halse
van adelik’ prinsesse
sal amber-edelsteen
C. Shaw
18 Julie 2014
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Net so pragtig soos Amber!!