DIE FOTOGRAAF
al wat hy vra is die Kgalagadi
gee hom net die stof en die sand
vaal gras wat pol teen ‘n rooi duin
en die grou van die lug bo ‘n rant
stuur tog ‘n maanhaar oor die vlaktes
met sielsoë en ‘n blik wat nie wyk
al stromp’lend op sy laaste vier bene
alvoor hy aan sy wonde beswyk
gee hom ‘n plek wat dors na water
waar die son die velde verskroei
‘n kameeldoringboom met takke
waaruit nimmer ‘n blaar weer sal groei
seën hom met nagte vol sterre
en mane wat roes in hul gloei
hiënas wat lag in die skemer
en teen ligdag ‘n boklam wat bloei
*
hy vra net om daar te mag wees
hy ken net een smagtende wens
om die lewende-dood Kgalagadi
te verewig deur die oog van sy lens
© C. Shaw
13 Augustus 2015
7 Kommentare
-
-
neels claasen
Pragtig carma
-
Kiekies
Heng vrou, dis alweer so pragtig! Versot op die laaste 2 strofes!
-
Evelyn van der Merwe
En kom die mooiste van die natuur dan nie juis deur die lens uit daardie panne uit nie. Pragwereld en jy het dit goed beskryf.
-
Anria
Ja kyk ek verlang nou sommer ook na die Bosveld (... lol, net hier om die draai ...) maar dit laat my verlang na daardie stof-reuk xxx
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Amaspoke
Pragtige werk, vol verlange sal ek sê