Die pers heks van Blommeland skryf ‘n vér verlanggedig
Dis skemeroggend en dis winter
maar die hemel skilderdoek
skroomloos in oranje
van hier by my
tot oor die kranse by Franschhoek.
En wyl die son nog effe sku
agter veraf pieke hang
moet ek verleë erken, my lief
dat ek soms skaamteloos verlang ~
na jou
en na plekke ver van hier.
*
Na ‘n weskus waar die huisies
nog in kalkwit eenvoud staan
langs oggendstrande
waarop branders breek
wyl die mis nog so huiwer om te taan
en na die skugter van ‘n boklam
wat met die nuwe dag se waak
waagmoedig
maar tog aarselend
haar weg na stille waters maak.
Die wye vlaktes vly my siel vol
met doringboom en gras se vaal
en die vrede om Cubitje Quab
voor die sandpatryse
water daar kom haal.
Heel die Tankwa lê vol klip en sand
wat smag dat reën en sneeu moet kom
om weer so wild
en onbeskeie
oor al die rante te kan blom . . .
*
en sommer só
verlang ek weer na jou
en tot by plekke baie ver van hier ~
tot by die see
tot by die Bosveld
verby die Noordkaap
tot daar bo
waar die Kgalagadi rus.
En tot êrens
diep in die Karoo . . .
C. Shaw
27 Junie 2016
6 Kommentare
-
neels
die treffende dra tot die prag van hierdie werk by. Weereens toe ek die titel sien toe weet ek hier is weer n lees fees soos net Carma kan
-
neels
Die drukkersduiwel in aksie die treffende foto dra tot die prag van die werk by
-
Koekekranka
Allemintig maar dit is roerend pragtig!
-
Ronel Janse van Vuuren
Roerend... pragwerk.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig soos net jy kan!!!