Gelapte legkaart Silwer
My legkaart lê op die vloer – stukkend
(van die tafel afgesmyt)
jy het met jou vuil voete
die brokstukkies kom stukkend trap
hier waar ek stadig maar seker my lewe wou bou
my liefde uitgesprei oor ‘n denkbeeldige vaste rots
hier het jy skelm stukkies van my lewe kom steel;
toe ek halsstarrig aanhou bou
het jy dit uit my hande geruk
neergegooi en vertrap
ek het opgekyk verby jou grinnik
verby die spot in jou oë
verby jou
hoog
hoog teen die hemel
daar het ‘n hand gewink
legkaartstukke het op my neergereën
en JY
jy het verdwyn
weggeruk deur ‘n hoër Hand
splinternuwe stukke het op my bord kom lê
langs my op sy knieë
het ‘n man gesit
biddend
en toe hy opkyk was ek daar
ek het sy legkaartstukkie uit sy hand geneem
die stukkie het perfek
in die stukkende hoek van my lewenskaart gepas
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek