In nagedagtenis
lê hom neer aan die voete van U berg, Heer
roep sy naam en laat U kranse dit in antwoord gee
vly hom oor U vlaktes en valleie
en laat rus hom op die golwe van U see
vloei hom in U strome en riviere
laat hom kronkel deur U klowe en U poort
vloed hom oor U dale waar die riete groei
‘skik hom in U lelies langs die oewers van ‘n sloot
vlies hom in die wolke deur U blou lug, Heer
laat hom glinster teen U hemele se trans
pols hom in die lig van elk ster en son en maan
en laat hom sweef op die ritme van U dans
laat bloei hom in die blomme oor U velde
pluim hom in die sade van U gras
loof hom in die blare van U bome
en kontoer hom in al die krakies van die bas
kleur hom in ‘n reënboog oor U landskap
vuur hom in U môrestond se gloed
edel hom in amber en robyne, Heer
en laat vlam hom in U skemeraand . . . as groet
C. Shaw
19 Augustus 2015
5 Kommentare
-
neels
As ek Eduard se kommentaar lees kan ek nie anders as om by hom aan te sluit nie
-
Kiekies
Ja jou werk is 'n skat .....'n hele skatkis vol skatte! Dis weer een van daai gedigte wat bewondering in my hart slingerdraai hoe verder ek lees!
-
Anze
Staande applous!!!
-
Koekekranka
'n Uiters dieptreffende 'nagedagtenis' so imposant verwoord dat die leser die naelstring waarme die digter eens aan die 'ontslapene' geheg was steeds kloppend warm kan voel. 'n Pragtige en netjiese gedig Viooltjie!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Eduard Smith
Ek is reeds ´n geruime tyd ´n aanhanger van jou werk, nie nét omdat ek dit geniet om jou werk te lees nie, maar ook oor die sorgvuldigheid waarmee jy jou verse aanpak. Jy verwaarloos nie die verbeelding van jou leser nie, en dit is opsigself ´n uitstaande karakter in suksesvolle digtery. Jy het ´n verbysterende talent ontvang en ´edel haar in amber en robyne, Heer´ daarvoor. Jou werk is ´n skat in Afrikaans.