Jongste aktiwiteit:

Middernag se lawwe vers

O my liefste lief
ek laat my woorde vir jou sing
ek werp klippies op die water
en laat die golfies na jou kring.
Môre bring ek appels
en soet rosyne
(sommer net)
en sê dalk vir die eerste keer
hoe lief ek vir jou het.

O my liefste lief
as jou oë so na my draai
dan wil ek in my blomsarong
my heupe vir jou swaai.
Groen pere uit die Boland
en die eerste ryp lemoen
bring ek in ‘n skotteltjie
as die najaar so seisoen.

Want
o my liefste lief
as jou woorde met my toor
wyl die wingerdstok sy blare
in die herfswinde verloor,
dan koor ek met my lippe
‘n kanon wat refrein –
ek het jou baie liewer
as die soetste
soete wyn.

O my liefste lief
al dooi plakkies teen die hang
langs die roete tot by Barrydale –
my hart sal bly verlang.
Perskes uit die Overberg
lê in bokse uitgestal
ek koop vir jou die geelstes
uit die ganse wye dal.

O my liefste lief
sou jou woorde ophou sing
sal my klippies in die water val
en my golfies ophou kring.
Dis soms so moeilik om te glo
dat die liefde kan verdwyn
hoe nader aan die harde pit
hoe suurder is die pruim.

Maar môre bring ek nartjies
en papaja
(sommer net)
en wys ek dalk vir oulaas weer
hoe lief ek vir jou het.

O my liefste lief …

© Carma Shaw
Middernag – iewers in April 2017




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed