Jongste aktiwiteit:

My dagboek oor jou (5) …

My dagboek oor jou (5) …

Vandag lê my hart kaalvoet. Sommer hier in die grondpad wat langs die huis verbyloop. Kaalvoet omdat daar niks is vir ‘n bietjie beskutting nie. Kaalvoet sonder enige verweer of beskerming.

Hoekom? Ek het ‘n boodskap van jou gekry om te sê jy weet nie of en wanneer jy terugkom nie. Jy sê jy is gelukkig daar ver oor die blou water en jy bou aan ‘n toekoms daar.

Jy kon my nie sien toe ek jou woorde hoor nie, maar ek is seker ek het mure rondom my hoor intuimel. Alles het stil geraak .. met ‘n stilte wat oorverdowend skree. Ek het probeer luister na wat jy vertel, maar ek kon nie mooi die woorde hoor nie. Ek het net gehoor hoe die stilte skree … Hy kom nie terug nie! … Nie nou nie!! …. Dalk nooit nie!!

Later het ek ‘n bad water getap en die stilte buitekant die badkamer toegemaak. Vir ‘n rukkie was dit net ek sonder die ewige geskreeu. Elke keer as die geskree weer wou begin het ek my ore onder die vol skuimbad laat ingaan en die klank gedemp totdat daar niks meer oor was nie.

Toe het gelatenheid ingetree. Gelatenheid … verlatenheid. Verskillende woorde, maar in ‘n hart het dit dieselfde betekenis. Dit beteken jy is alleen. Stoksiel-saliglik-alleen.
Ek het in die bed geklim en die kombers oor my kop getrek. Alles uitgesluit sodat ek myself kon troetel in my alleenwees. Erens in die na-nag het Tinkerbell by my voete kom lê. ‘n Stukkie warmte … ‘n stukkie lewe. En ek het geweet ek gaan nie dood nie, ek gaan aanhou lewe en aanhou voel, want daar is asem in my lyf.

Vanoggend is my hart broos en kaalvoet. Maar hy klop steeds in reëlmaat.

Ek sal aanhou skryf, want wie weet, miskien eendag ….

Soos altyd bly jy my hart se grootste stuk.

Lief jou sonder einde
Xxx




daar is 'n plek in my waar ek nog jou vingerafdrukke voel waar jou soene nog talm en jou fluisterwoorde saggies weerklink dit is die plek waar 'n deel van jou vir altyd 'n deel van my sal wees ...

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed